Deur Reon Janse van Rensburg

Is ek goed genoeg? Wat as die ander mense sien dat ek nie weet wat ek doen nie? Ek hoort nie hier nie en op een of ander stadium gaan my kollegas dit raaksien?

Die bogenoemde vrae is slegs ʼn paar uit duisende wat dikwels deur mense binne en ook buite die werkplek aan hulleself afgevra word. Dit is die stem van jou innerlike kritikus wat so af en toe sy of haar verskyning maak, en jou in jouself en jou eie vermoëns laat twyfel. Jou innerlike kritikus het ʼn geweldige invloed op jou selfvertroue en vermoë om vordering met jou doelwitte te maak en kan selfs ʼn negatiewe effek op jou loopbaan hê.

Bedrieër-sindroom of beter bekend in Engels as “Imposter Syndrome” word ervaar wanneer gevoelens van self-twyfel en persoonlike onbevoegdheid voortdurend ervaar word ten spyte van ʼn persoon se kwalifikasies en bewese vermoëns, ervaring en ook prestasies. Eenvoudiger gestel is bedrieër-sindroom daai gevoel wat jy ervaar wanneer jy dink jy verdien nie om te wees waar jy is nie, want jy voel jy is nie goed genoeg nie.

Indien jy al ooit hierdie sindroom of gevoelens by die werk ervaar het, is die goeie nuus dat jy nie alleen is nie. Healthline berig dat daar in ʼn 2019-oorsig van 62 studies oor bedrieër-sindroom voorgestel is dat tussen 9% en 82% van mense in die werkplek op ʼn stadium met hierdie tipe gedagtes gekonfronteer word.

Waarom is bedrieër-sindroom nie goed vir jou nie?

Wanneer mense hierdie gevoelens van self-twyfel probeer teëwerk, lei dit dikwels daartoe dat mense harder werk en hulself aan hoër standaarde meet. Die druk wat dit op die persoon plaas kan uiteindelik sy tol eis en ʼn negatiewe impak op mense se emosionele welstand hê.

Hierdie bedrieglike gevoelens verteenwoordig ʼn konflik tussen jou eie self-persepsie en ook die manier waarop ander mense jou waarneem. Gevolglik druk jy jouself om harder te werk sodat ander mense nie jou tekortkominge of mislukkings raaksien nie, of totdat jy uiteindelik waardig voel vir die rol wat jy voel jy nie verdien nie. Omdat dit slegs jy is wat hierdie gevoelens glo, ag jy enige erkenning wat jy verdien bloot as simpatie, of dat iemand jou jammer kry. Ten spyte daarvan dat jy jou prestasies aan toeval verbind, neem jy al die skuld vir enige foute wat jy maak, al is die fout hoe gering. Die ergste is dat selfs geringe foute jou geloof in jou gebrek versterk en dat jy oortuig is dat daar iets met jou vermoë skort.

Hoe spreek ons hierdie innerlike kritikus aan?

Die slegste plek waar ons dikwels die meeste tyd spandeer, is in ons eie gedagtes. Ons skep ons eie realiteite, wat buite ons gedagtes nie eens bestaan nie. Hierdie wanindrukke van ons eie identiteit en ook ons vermoëns voel later so eg dat ons nie meer feit van fiksie kan skei nie. Die eerste stap is dus om vir ʼn oomblik of twee uit jou eie gedagtes te klim en van buite af of as buitestaander na jouself te kyk.

Ons moet heel eerste verstaan hoekom hierdie gevoelens by ons bestaan. Dalk het iemand hulle ongevraagde opinie oor jou werk of oor jou persoonlike vermoëns geuiter. In plaas daarvan om dit as ʼn stukkie kritiek te neem, wat jy kan neem en indien jy saamstem dit verbeter of om te kies om dit te ignoreer, kou ons daaraan asof hierdie gevoelens wat dit by ons laat, die reine waarheid is. Dit is juis dan belangrik om te onthou dat hierdie gevoelens jou bedrieg en dat dit nie die waarheid oor jou as mens is nie en ook nie die manier is hoe ander mense na jou kyk nie.

Hierdie stem van die kritikus binne jou gedagtes is iets waarmee baie van ons nog baie mee gaan gekonfronteer word. Om bedrieër-sindroom te oorkom begin egter met die erkenning van jou eie potensiaal en om eienaarskap van jou vermoëns en prestasies te neem.

Wenke om bedrieër-sindroom in die kiem te smoor

Onderskei gevoel teenoor feite

Hoe jy voel en die waarheid is soms verskillende dinge. Ons gevoelens is dikwels misleidend en ons hoort nie altyd daarna te luister of daarop te reageer nie. Die feit is, is dat jy werklik in staat is en dat jou vermoëns nie vir jou jok nie. Jy bewys dit daagliks.

Hou op om te vergelyk

Jou eie prestasies is net so waardig soos die van jou kollegas. Wanneer ons, ons lewens met ander mense op sosiale media gaan vergelyk, dan is dit verseker dat iemand anders se lewe of prestasies altyd mooier of beter gaan lyk omdat mense dikwels net die goeie dinge wys, maar die slegte weerhou. Onthou ook dat selfs die top presteerders in jou maatskappy soms met bedrieër-sindroom sukkel – gebruik dit as ʼn motiveerder en onthou dat jy nie in jouself hoef te twyfel nie.

Praat met iemand

Nou dat jy weet dat die meeste mense op een of ander tyd in hul lewe met bedrieër-sindroom worstel, is dit makliker om ʼn eerlike gesprek daaroor te hê. Wanneer jy met hierdie bedrieglike gevoelens gekonfronteer word praat met iemand wat jy ken. Dikwels verg dit net ʼn bietjie selfversekering sodat jy kan besef dat die gevoelens van selftwyfel besig is om vir jou te jok. Klim uit jou eie gedagtes!

 

Bronne:

Imposter Syndrome: What it is and how to overcome it – https://health.clevelandclinic.org/a-psychologist-explains-how-to-deal-with-imposter-syndrome/

How to overcome imposter syndrome and tame your inner critic – https://www.entrepreneur.com/article/428247

You’re Not a Fraud. Here’s How to Recognize and Overcome Imposter Syndrome – https://www.healthline.com/health/mental-health/imposter-syndrome