Deur Reon Janse van Rensburg

Ek gebruik selde die Microsoft Excel-program. Om die waarheid te sê, ek het so ’n effense vrees daarvoor. Dit voel vir my soos wiskunde toe ek nog op skool was en die onderwyser skielik op een dag besluit het om letters en syfers saam te gebruik om allerhande ingewikkelde dinge uit te werk en ek te bang was om my hand op te steek en te vra vir hulp! Woorde is en was nog altyd my ding. Vra maar selfs my vrou – ek en somme en allerhande formules is nie maats nie.

Op ’n Woensdagoggend sit ek vroeg in ’n Mugg & Bean in Centurion, besig om voor te berei vir ’n onderhoud met Chris Botha. Chris is ’n “Microsoft Certified Master Trainer”. Ek het met hom gaan gesels omdat hy die man is wat S-Leer se MS Office-kursusse aanbied – en daar word nogal met baie lof van hom gepraat. Ek wou graag gaan uitvind hoekom dit so is.

Chris stap in die Mugg & Bean in en is dadelik herkenbaar en lyk presies soos die man op sy foto op sy webblad. Netjies aangetrek en vriendelik. Sommer met die intrapslag, nog voor hy kans kry om sy koffie te bestel, begin ons gesels asof ons mekaar al jare lank ken.

Chris het in Cradock in die Oos-Kaap grootgeword en het Wiskundige Statistiek by Kovsies in Bloemfontein gaan studeer met ’n beurs wat hy deur Spoornet gekry het. Hy vertel egter dat hy sy lewe lank ’n onderwyser wou word omdat hy ’n passie het vir mense wat hulp nodig het om hulle kennis uit te brei – boonop het hy nog die geduld ook daarvoor!

Onwetend het sy droom egter jare later waar geword en het hy ’n paar jaar gelede by Hoërskool Zwartkop in Centurion as RTT-onderwyser afgelos nadat hy reeds in ’n administratiewe rol by die skool betrokke was.

“Op 54 word ’n droom waar, dat ek in ’n klas kan instap as onderwyser. Mens moet nooit dink jy het drome en dit gaan nie waar word nie.”

Chris het sy loopbaan by Spoornet in Johannesburg begin by die bedryf van ekonomiese dienste waar hy sy agtergrond met statistieke kon benut. Dit was egter in 1996 toe hy met MS Excel kennis gemaak het. Die gogga het hom daar gebyt en sy passie vir veral Excel is hier gebore. Hy het eers deeltyds begin klas gee in die aande en toe, namate die gebruik van Excel en rekenaars toegeneem het, het hy voltyds begin klas gee. Dit is juis ook as gevolg van sy liefde vir wiskunde dat hy lief geraak het vir Excel omdat dit gaan oor formules en dinge uitwerk sodat dit mense se werk vergemaklik.

Hy hou nie daarvan om homself met ander fasiliteerders te vergelyk nie, maar hy sê die praktiese gebruik moet toepasbaar wees en hy is nie mal oor die idee om uit ‘n handboek te werk om iets vir mense te verduidelik nie. Hy leer graag aan sy studente dinge wat prakties toepasbaar is en wat hy ken. Die handboek en oefeninge kan jy by die huis gaan oefen, want dit is belangriker om kennis oor te dra en vrae te stel terwyl jy in die lokaal is sodat werklike probleme of uitdagings wat jy in jou daaglikse werktyd met MS Office beleef, hanteer kan word en jy kan huis toe gaan met die gedagte dat jou probleem iets van die verlede is.

Daar is baie mense wat nie daagliks met hierdie tipe programme werk nie, hetsy administratiewe personeel of selfs mense op die vloere in fabrieke. Hoe pas hulle aan en hoe kan hulle die tegnologie benut om hulle werklas of selfs lewens te verbeter? Chris sê dat die gebruik van ‘n rekenaar nie iets is om te vrees nie – “Hy gaan nie ontplof nie! As jy ‘n fout gemaak het, kan dit maklik reggemaak word. Sit en oefen, gebruik die internet, en selfs YouTube kan jou leer oor dinge wat jy nie geweet het nie. Jy sal verbaas wees oor hoe die gebruik van die programme makliker en makliker raak namate jy oefen.”

Chris bied al byna 23 jaar lank MS Office-kursusse aan en hy leer steeds nuwe dinge wat hy ook nie geweet het nie, en hy deel graag al sy kennis.

Chris was onlangs in Amsterdam vir ’n driedaagse Excel-seminaar waar hy Excel-kenners ontmoet het. Hy kyk dikwels na die einste mense se video’s op YouTube en hier kon hy van hulle ontmoet. Hy noem ook dat wat vir hom uitgestaan het, was dat die kenners ook net gewone mense is wat ’n passie het vir wat hulle doen en dat hy daardie passie deel en dat dit vir hom meer as net ’n werk is.

“Een ding van die lewe is dat as jy nie vra nie, gaan jy nooit weet nie!”

Chris bied nie net Excel aan nie, maar fokus op die hele MS Office-pakket. Hy noem wel dat Excel sy groot liefde is, maar dat hy Word en PowerPoint met net soveel ywer aanpak en dat daar net soveel is wat hy vir mense daaruit kan leer. Hy leef homself uit in sy werk.

“Min mense weet dat Excel en Word dokumente kan integreer en dat daar tussen die twee programme baie dinge saam kan plaasvind. Jy kan albei programme gebruik om ’n groter doel na te streef en in die proses jou werk baie vergemaklik, en raai wat? Dit sal jou dalk nie eers 5 minute neem nie! Dink net hoe verras jou baas gaan wees as jy vir hom of haar kan wys dat dae se werk verkort is en nou slegs minute neem!”

Ek wonder nou al vir ‘n ruk wat ‘n “Microsoft Certified Master Trainer” is en hoe jy die kwalifikasie behaal. Chris verduidelik dit so: “Dit is praktiese eksamens wat deur Microsoft aangebied word waar jy eksamens skryf oor ’n sekere MS Office-program. Jy kan egter ’n ‘Master Trainer’ wees eers as jy ál die pakette (Excel, Word en Powerpoint) bemeester het en die eksamens suksesvol afgehandel het.”

Oor die jare was daar deurlopende ontwikkeling van die produkte en dit is lankal nie meer die Excel wat ons in 1996 leer ken het nie. Volgens Chris maak Microsoft dit baie maklik vir die gebruiker, en die gebruiker is nie eers bewus van al die tegnologie wat agter die skerms ingespan word om ’n perfekte eindresultaat te verkry nie. Hy verduidelik dat daar veral met Excel deurlopend nuwe formules uitgewerk word om dit vir die gebruiker selfs nog makliker te maak.

Chris beklemtoon die belangrikheid om die nuutste weergawes van MS Office op jou rekenaar te hê en dat Microsoft nuwe weergawes bekendstel nie net om geld te maak nie, maar sodat jy as gebruiker toegang kan hê tot die nuutste tegnologie en elke aspek van die nuutste weergawes. Een van die probleme waarmee hy soms in sy opleiding te doen kry, is dat mense se weergawes van MS Office so oud is dat die kennis wat hy graag aan hulle wil oordra, nie oorgedra kan word nie omdat die weergawes op hulle rekenaars bloot te oud is. As gevolg hiervan raai hy mense aan om gebruik te maak van Office 365, waar jy ’n maandelikse paaiement betaal, maar jy het altyd toegang tot die nuutste weergawes van die produk.

Chris noem dat dit nie net sekere mense is wat by S-leer se MS Office-kursusse sal baat vind nie, maar dat enige persoon daarby kan baat vind, van die administratiewe persoon in die kantoor wat daagliks met die programme werk tot selfs die persoon wat heeldag in die fabriek werk en een maal per maand ’n verslag moet opstel. Almal kan daarby baat vind en jy sal beslis nuwe dinge leer waarvan jy nie geweet het nie wat jou werk soveel makliker sal maak! Alles is elektronies – mens moet leer om aan te pas.

’n Belangrike vraag wat ek aan Chris wou stel, is of die kursus jou loopbaan kan bevorder.

“Beslis! Daar is geen werkplek wat dit nie as ’n vereiste stel nie. Elke advertensie van ’n werkaanbod het vereistes en ek kan jou waarborg dat almal gaan vereis dat jy ten minste basiese vaardighede moet hê in Excel, Word en PowerPoint.”

S-Leer het ook groot planne saam met Chris. Saam beplan hulle om in 2020 maandelikse kursusse aan te bied. Chris verkies egter dat ons praat van werkwinkels omdat ’n kursus bloot iets is wat aangebied word en jy met ’n boek huis toe gaan. ’n Werkwinkel is ’n gesprek waar vrae gestel word en probleme onder mekaar opgelos word. Groepe skakel by mekaar in en met Chris se hulp sorteer hulle individuele kwessies uit omdat elke persoon se verwagtinge en probleme verskil.

Ek verduidelik aan Chris dat ek een van die mense is wat met die probleem sit dat ek nie noodwendig weet waarmee ek sukkel nie en dat ek moontlik met alles sukkel! Hy stel my gerus dat die basiese kursus juis vir mense soos ek bedoel is sodat jy die basiese konsep en praktiese uitvoerbare dinge kan leer wat jy behoort te weet. Daarom maak ek seker dat ek in die volgende werkwinkel gaan wees sodat ek iets weet en hopelik later selfs nog meer!

Die volgende Excel-werkwinkel vind plaas op 4 en 5 September 2019. Besoek gerus www.s-leer.co.za vir meer inligting oor hierdie en ander uitnemende kursusse wat jou loopbaan se koers kan verander.