Stres en die SAPD

KURSUSSTATUS:

GRATIS

Neem hierdie kursus

Tydens die Verwelkomingswebinaar sal die deelnemers ʼn goeie blik kry op die brein en die strukture in die brein wat met stres te doen het, en waarom dit help om hiervan te weet.

 

KURSUSBENAMING
STRES in die SAPD: Ek kies om te lewe!

DATUM EN DUUR VAN KURSUS
• Verwelkomingswebinaar: Oorsig van die volle kursus met voorbeelde. Inleidende en interessante FEITE omtrent die brein, hart en liggaam se aanpassings en veranderinge tydens langdurige tye van stres.
1 Oktober: 19:00 – 20:00

• Stres en my intellek: Denkkrag, BREINfiksheid en kreatiwiteit. Diepgaande kennis oor die brein en waarom hierdie orgaan se gevorderdste deel gebruik moet word om stres kreatief te hanteer.
8 Oktober: 19:00 – 20:30

• Stres en my emosionele intelligensie en welsyn: Herken en STOP dodelike emosies en hul uitwerking op die liggaam. Ontdek die name van spesifieke emosies en watter organe in die liggaam deur hierdie emosies geteiken word, wat die organe laat verswak en siektes tot gevolg het.
15 Oktober: 19:00 – 20:30

• Stres en my liggaam – Aftakeling of genesing. Ontdek waarom jou liggaam en sy reaksie (terugvoer, uitkoms) op stres so belangrik is in hierdie reis van die LEWE. Kry ʼn nuwe blik op fisiese energie en liggaamlike vibrasies wat selfs in jou omgewing ook verandering teweeg kan bring.
22 Oktober: 19:00 – 20:30

• Stres en my geestelike gesondheid: Wat het gebeur met my geloof, hoop en liefde?
29 Oktober: 19:00 – 20:30

KURSUSFORMAAT:
Reeks webinare

KOSTE VAN KURSUS:
Gratis

PLEK WAAR DIE KURSUS BYGEWOON WORD:
In die gerief in jou eie huis of kantoor.

OORSIG VAN INHOUD:
Verwelkomingswebinaar:
Tydens die Verwelkomingswebinaar sal die deelnemers ʼn goeie blik kry op die BREIN en die strukture in die brein wat met stres te doen het, en waarom dit HELP om hiervan te weet. Daar sal ook verwys word na die belangrikheid van HARTS-gesondheid wat so uiters nodig is om die liggaam se lewensbalans te bewaar. Daarna word die vier belangrikste lewensaspekte genoem (geestelik, emosioneel, intellektueel en fisies) en ʼn voorbeeld gegee van hoe STRES die vier lewenskragte baie nadelig beïnvloed en dit kan vernietig. Met verwysing na die vier lewenskragte sal daar ook voorbeelde gegee word van simptome en HOE om dit wat stres doen, reg te stel. Ons doen ook enkele selfontdekkingsaktiwiteite en deelnemers word gereeld uitgenooi om vrae te stel nadat elke nuwe konsep verduidelik is. Aan die einde van die webinaar kry die deelnemers twee belangrike vrae om oor na te dink, voordat ons met die eerste webinaar begin. Elke webinaar sal saamgevat word met die vraag: HOE kan die inligting ons help?

Stres en my intellek: Denkkrag, BREINfiksheid en kreatiwiteit
Ons begin met meer inligting (by wyse van sketse) oor die brein. Uitermatige stres beïnvloed breinaktiwiteit en die aktivering van chemiese stowwe wat negatief is. (Voorbeelde: persone kan nie fokus nie, raak beangst, twyfel, is vergeetagtig, verward en verloor dryfkrag). Die baie sterk konneksie met emosies veroorsaak spesifieke veranderinge in die brein, en meestal reageer stresvolle persone glad nie vanuit die prefrontale korteks nie (jou DINK-brein / jou SLIM brein) en tree vreemd op. (Die bekende vlug–, vries of vrees-reaksies skop in en onnodige aandag word gegee aan emosies soos blaam, woede, selfhaat, angs, twyfel en irritasie.) Breinfiksheid is noodsaaklik vir ʼn suksesvolle en gesonde lewe. Besluitneming, wat ‘n volle breinfunksie is, word dom gedoen. Aspekte soos om vooruit te dink word afgestomp. Ons doen ook enkele aktiwiteite en gee wenke om intellektuele vermoëns weer aan te vuur.
Die kwessie van persepsies word aangepak met voorbeelde wat ook in jou eie omstandighede toegepas kan word.
ʼn Ander baie belangrike kwessie omtrent breinfiksheid tydens stresvolle periodes is ons “Belief System”/ Geloofstelsel. (WAT glo jy omtrent jouself tydens hierdie tye?)
Stres en my emosionele intelligensie en welsyn
Al bly ons bewus van die positiewe emosies wat ook deel uitmaak van ons lewens, sal my fokus wees op daardie emosies wat toksies en dodelik is, nie net ten opsigte van jou persoonlikheid en menseverhoudings nie, maar beslis van jou algehele gesondheid. Dodelike emosies kan jou liggaam verwoes. Die ingebore konneksie wat ons het tussen ons brein, hart, alle liggaamsorgane en die omgewing, het alles te doen met hoe ons met hierdie dodelike emosies werk. Ons kry ook ʼn kykie in die name van gevoelens en poog om die deelnemers se kundigheid ten opsigte van spesifieke gevoelens te verhoog sodat hulle dit kreatief kan bestuur. Tydens hierdie aanbieding kyk ons weer na wat emosies aan die brein doen en bied enkele belangrike vrae en ʼn aktiwiteit aan wat selfontdekking gaan aanvuur. Die name van die mees algemene siektes en die verband tussen hierdie siektes en emosies sal ook bespreek word. Deelnemers gaan geleer word om gevoelens op ʼn biologiese wyse te verstaan. Ons sal simptome bespreek en beslis ook oplossings voorstel. Tyd vir voorbeelde en vrae maak ʼn groot deel uit van hierdie webinaar. Die webinaar sal eindig met voorstelle en oplosings om die skade wat stres veroorsaak het, te herstel.

Stres en my liggaam: Aftakeling en genesing
Tydens hierdie webinaar draai ons geen doekies om nie en vertel die waarheid omtrent die skade wat STRES aan die liggaam aanrig. Studies dui op ernstige siektetoestande waarvan die onderstaande ʼn paar voorbeelde is:
• Benadeelde immuunfunksies
• Verminderde glukoseverbruik
• Verhoogde beenverlies
• Verminderde spiermassa
• Verhoogde vet-akkumulasie
• Vernietiging van breinselle
Ons gaan voort en noem dat te veel stress en vir TE lank vele ander liggaamlike siektes aanwakker. Hartprobleme, maagprobleme, velprobleme, inflammasie en selfs longprobleme word toegeskryf aan stres op die liggaam. (Meer sal genoem word, en ons skep tyd vir vrae met geverifieerde antwoorde.)
Wanneer die liggaam deur enige siektetoestand afgetakel word (en tussen 75% en 90% van alle besoeke aan algemene praktisyns verwys na stresverwante toestande), verloor mense hul vermoë en dryfkrag om uitdagings die hoof te bied. Hulle sukkel ook om hul emosies te bestuur en selfs beter te konsentreer! (Die konneksie tussen brein, hart en lyf.)
Deelnemers sal ook sewe kragpunte kry om toe te pas wat hulle gaan toerus om van kop tot tone fiks te dink, fiks te voel en fiks te leef!

Stres en my geestelike gesondheid:
Daar word 365 keer in die Bybel gesê: “Moenie vrees nie.” Ons gaan kyk na vrees en dit in verband bring met die feit dat ons geskape is om HEEL te wees: liggaam, verstand, emosies en gees. Ons word uitgenooi en uitgedaag om ernstige keuses te maak – soos byvoorbeeld om te vergewe (die KERN van geestesgesondheid), om lief te hê en ons Skepper te vertrou wat ons so geskape het om ten volle gesond te wees. Die oproep is om HEEL te wees – en alhoewel talle aspekte met ons emosies en verstand te doen het, is ons geestelike gesondheid net so nodig om liggaamlik gesond te wees!
Wanneer ons omstandighede uiters stresvol raak, verloor ons ons rede om te lewe. Ons verloor ons sin vir die lewe, ons visie, en ons begin ons kernwaardes verwaarloos (selfs vernietig).
Ons gaan kyk na die impak wat verlore geestelike energie op ons het, asook na hoe dit weer aangevuur kan word. Nie elkeen besef dat geestelike welsyn ontsettend baie te doen het met jou lewensenergie nie – en dat geestelike energie nodig is om die totale prentjie van HEEL wees, te vervolmaak.

AANBIEDER: Annie Coetzee
Annie Coetzee is ʼn skrywer van tien selfontwikkelingsboeke en menige artikels wat in sake- en ander tydskrifte met die fokus op SELFbestuur en kennis oor die liggaam gepubliseer is. Twee van hierdie selfontwikkelingsboeke (Are you connected en I think, I feel, I am) was ook beste verkopers in die mark vir selfontwikkeling. Na enkele jare in die onderwys, verbonde aan universiteite (Sielkunde en Navorsingsmetodologie), het sy haarself verder verryk met kursusse soos “NLP in Business”; “Neuro Coaching”; “Investment in Excellence”; “Adult Development” en “The Dynamic Trainer” by internasionaal erkende instansies soos o.a. DukeCE. Sy is ʼn voltydse fasiliteerder in die korporatiewe arena, met spesiale verwysing na gesondheid, lewenslus en ʼn doelgerigte lewe. Daar is meer inligting oor haar op haar webwerf beskikbaar: www.anniecoetzee.co.za

Neem hierdie kursus

Ratings and Reviews

0.0
Avg. Rating
0 Ratings
5
0
4
0
3
0
2
0
1
0
What's your experience? We'd love to know!
No Reviews Found!
Show more reviews
What's your experience? We'd love to know!