Deur Paulize Mahon

Ek sit op 21 Maart 2020 op Uvongo se strand vir ʼn kort wegbreek saam met my peetkinders. Die koronavirus is vir ons nog ʼn onbekende en onwerklike faktor. Nog net ʼn handjievol mense in Suid-Afrika het dit, maar ons word reeds vertel dat ons nie op die strande mag wees of mag swem nie, want korona is hier. Dis ʼn vreemde konsep en jy probeer vir ʼn amper 6-jarige en 8-jarige op ʼn seevakansie verduidelik dat ons nou nie meer op die strand mag wees nie omdat ons kan siek raak van ʼn siekte wat nuut is en waarvan ons nie veel weet nie. Nietemin het ons die beste van ʼn baie vreemde ervaring gemaak en dit geniet. Ons maak grappies oor maskers dra en dit is ʼn vreemde konsep elke keer as ons by Spar kom en ons hande met handreiniger moet was voor ons in die winkel mag ingaan.

Maandagoggend 23 Maart ry ons vroeg terug Pretoria toe om in ons eie huis na die president se aankondiging te kan luister. Ons bespiegel oor wat gaan gebeur en wat die president gaan sê. In dié tyd het ons al baie gehoor van lande wat inperkings instel en dat ons fisieke afstand tussen mekaar moet handhaaf, maar dis nogal ʼn vreemde konsep as ʼn mens grootgeword het met die gewoonte om jou familie te druk en te soen – min wetend wat in die volgende paar maande op ons wag.

Ons almal is vasgenael voor die TV en almal snak na hulle asem toe ons hoor ons moet “lockdown”. Ons almal het dit verwag, maar tog gehoop dis nie in daardie stadium nodig nie, want ons het bly dink dit is nie so erg nie. Vinnig begin grappies op sosiale media rondgaan – mense is ingenome om by die huis te bly en hulle deel te doen.

Vinnig moet ons reëlings tref, want drie weke kan lank raak as jou werk staan, so almal maak spoedig planne om van die huis af te werk en seker te maak jy is nou gereed om vir drie weke by die huis te bly en glad nie uit te gaan nie, tensy dit vir dringende behoeftes is soos kos in die huis. Ons is mos egter baie veerkragtig … so raak drie weke van by die huis bly net effens langer met nog aankondigings. Mense begin bekommerd raak oor die ekonomie en dat die inperking nou effens te lank raak. Die reëls maak vir die meeste mense geen sin nie; trouens, dit maak hulle eintlik net vies … en so raak dit al hoe moeiliker en al hoe langer. Mense begin video’s maak oor hoe hulle iemand sal klap vir ʼn goeie pakkie sigarette; mense begin agterkom hoe lekker dit was om net gou in jou kar te kon klim en haarkapper toe te gaan of net gou sommer winkels toe gaan en ʼn geskenk te gaan soek vir iemand wat verjaar.

Dan kom die nuus dat net sekere ekonomiese aktiwiteite mag oopmaak. Almal wonder hoe die nuwe normaal gaan werk, en almal wonder nou ewe skielik onder watter vlakke hulle val en wanneer hulle weer kan begin ingaan werk toe. Jy begin ook wonder oor die woord “essential workers” of noodsaaklike werkers, en mense word versoek om sover moontlik van die huis af te werk. Intussen werk jy baie hard van die huis af en wonder hoe ander mense al die verandering hanteer. As ʼn mens sê verandering is so goed soos ʼn vakansie, is dit nie juis die tipe verandering wat ons in gedagte gehad het nie.

Kort daarna ontvang jy ʼn oproep van ʼn vriendin. Sy kry daardie maand geen salaris nie aangesien haar werk van so ʼn aard is dat hulle net by die werk hulle werk kan doen, en ʼn mens het ook nie ʼn idee wanneer dinge na normaal gaan terugkeer nie.

ʼn Mens wonder of jy nou vir die volgende week of die volgende maand moet stres, en of jy jou moet begin regmaak vir meer maande? Vinnig begin jy aan moontlike oplossings vir die probleem dink en jy begin kyk waar jy kan uithelp met ’n paar basiese goed. So hoor jy van nog ʼn vriend met wie se familie dit nie goed gaan nie … en ʼn mens begin die woorde “too close to home” gebruik, want sulke goed gebeur mos net met ander mense – met iemand se oupa se broer se sussie kind. Jy is nie eens seker wat die persoon se naam is nie, maar jy ken sy storie want almal ken mos altyd iemand verlangs. Maar nou begin jy die mense wat deur ʼn baie moeilike tyd gaan, persoonlik ken.

So begin dit met een vriendin, wat dan oorspoel na nog een toe. Jy begin agterkom hierdie gebeure raak nie meer net ander mense van wie jy altyd net hoor nie; dit is nou iemand met wie jy onlangs, in Januarie, gesels het en aan wie jy heel dapper jou drome vir 2020 vertel het, en julle het vir mekaar vertel hoe mooi die jaar 2020 ons almal gaan behandel en dit gaan net positief en lekker wees.

Die oproepe raak meer; die nood en druk raak groter. Die volgende oproep wat jy kry, is van iemand wat afgelê is by die werk, want daar is nie meer geld om salarisse te betaal of die besigheid se deure oop te hou nie. Jou eerste gedagte is, maar dit kan mos nie wees nie? ʼn Mens probeer moed inpraat en raad gee, en ek besef self dat ek nie ʼn idee het wat my regte tydens afleggings is nie. Wat moet gedoen word, wat is die komplikasies, waar begin jy? Waar baklei jy en wanneer is jy dankbaar vir wat jy kry … Hoe moet ek dit nou weet? Dit gebeur mos net met ander mense, nooit met jouself of iemand wat jy persoonlik ken nie.

Plotseling besef jy dat hierdie realiteit erger is as waarvoor jy ooit gedink het jy in jou leeftyd sal moet voorberei. ʼn Mens lees altyd van pandemies in die geskiedenis en kyk dokumentêre programme en gesels daaroor met jou vriende en hoe erg dit moes gewees het, en hier sit jy en jy besef dat jy nou deel van die geskiedenis raak. Gaan jy eendag as jy oud is vir jou kleinkinders hiervan kan vertel soos ons oumas en oupas vir ons van die Boereoorlog vertel het? Vir die eerste keer begin ʼn mens besef hoe belangrik veerkragtigheid in ʼn mens se lewe is, en hoe dit jou help om veerkragtig te wees en wat dit eintlik vir jou beteken om jou geloof te hê. En ʼn mens wonder wat jy kan doen om ʼn verskil in jou eie lewe te maak. Indien jy ook voel dat jy ʼn leek op soveel gebiede is, wil ek vandag vir jou sê jy is nie alleen nie, maar daar is wel ʼn oplossing.

S-leer het fantastiese programme wat jou deur hierdie onsekere tye kan help. Dit sal jou tot voordeel strek om in hierdie tyd op persoonlike ontwikkeling te fokus. Kyk die gratis webinare oor veerkragtigheid, verlieshantering, stresbestuur, en vele meer. Daar is selfs ʼn volledige e-leerkursus wat handel oor die hele Covid-19-situasie, van hoe om ʼn pasiënt wat positief getoets het, by die huis te versorg, tot wat jy in ʼn afleggingsproses moet en kan verwag, of selfs net hoe om die huidige stresvolle situasie te hanteer. Hoor van kenners op die gebied, van sielkundiges tot arbeidspesialiste.

Bemagtig jouself sodat jy, indien jy in ʼn bootjie beland waar jy dringend werk moet soek, in jou onderhoud kan bewys dat jy jou deel gedoen het om jouself deur voortgesette leer en te bevorder.

Besoek www.s-leer.co.za en volg enige kursus om ʼn nuwe vaardigheid te leer.