Daar is gonswoorde wat die mens bang maak.  Dit is woorde soos kunsmatige intelligensie, die Vierde Industriële Rewolusie, nano- en biotegnologie en robotika.  Dit is tereg so, want die mens voel bedreig en voel dat hierdie elemente ons menswees infiltreer, ons werk kom wegvat en alles kom beheer en oorneem. Die waarheid is ook dat ons dit toelaat omdat dit ook ons lewe vergemaklik.  Uber en Airbnb is voorbeelde van hoe ons hierdie KI gebruik om ons lewens te vergemaklik.

Ons moet een ding mooi onthou.  Ons as mense is daar om robotte te programmeer, en nie sodat hulle ons programmeer of beheer nie.  Daarom sal daar sekere vaardighede wees wat nog belangriker gaan raak in hierdie tyd wat ons betree.  As jy jou oë toemaak en ’n roos in jou gedagtes voorstel, sal jou roos uniek en heeltemal anders wees as dié van die persoon langs jou.  Die robot se roos sal die weergawe wees wat ons programmeer en wat hy herroep.  Daarom is hierdie denke en kreatiwiteit waaroor die mens steeds beskik, en die emosie wat daaruit vloei, bitter belangrik in die Vierde Industriële Rewolusie en die wêreld van werk wat so vinnig verander.

Die spoed waarteen gewerk word, raak vinniger, alles is digitaal en die tyd van ’n “baas” wat die laaste sê het, is by die deur uit.  Daar gaan baie klem gelê word op spanne met verskillende gawes en vaardighede.  Probleme sal in groepe opgelos moet word, daar sal onderhandel moet word, kreatief en uit die boks gedink moet word, en die oplossings sal saam gevind en beoordeel word.

Ons beweeg ook in ’n tyd waar dit nie soseer oor die produk gaan nie, maar eerder oor die diens wat gelewer word.  As jy in ’n vreemde dorp inry, sal jy eerder op Tripadvisor uitvind watter restaurant die beste is om by te eet, want die mense evalueer dit en beveel dit aan, nie die restaurant self nie.

Ja, werksgeleenthede gaan wegval, maar nuwe werke gaan geskep word en dit is belangrik om aan die voorpunt hiervan te bly.  Ons moet weetgierig en honger wees vir voortgesette leer, want die mens gaan nie uit die rewolusie gehaal word nie; hy gaan net anders moet dink en werk en hom altyd, altyd moet besig hou met lewenslange leer.