Jim Clifton die voorsitter van Gallup voer in sy boek, The Coming Jobs War, aan dat daar die uitdaging in die wêreld is om goeie werk te skep en entrepreneurskap te bevorder. Almal in die wêreld is op soek na ’n goeie werk. Goeie werk definieer ons, dit skep voortvarendheid en voorspoed. Hy voer aan dat ’n wêreldwye oorlog na goeie werk op pad is en dat daar nie tyd is om te mors nie.

’n Studie wat die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) onder leiding van Charles Schwab onder duisende besigheidsleiers gedoen het, en wat in sy boek, The Fourth Industrial Revolution vervat is, is daar bevind dat die mens, te midde van die Vierde Nywerheidsrevolusie (4NR), deel wil wees van iets groter as hulleself en voel dat hulle ’n doel in die lewe het. Die Vierde Nywerheidsrevolusie gaan gepaard met die Internet van Dinge, tegnologiese vooruitgang, robotika en om bestaande vaardighede met tegnologie te verweef.

Die mens is verbind, maar tog alleen en binne die warboel van tegnologie moet mens relevant en verbind bly met die regte mense. Hoe doen ’n mens dit?

Die Solidariteit Beroepsgildes bied juis dít. ’n Netwerk van werk waarbinne mense in dieselfde beroepe ’n netwerk vorm. ’n Solidariteit Beroepsgilde is ’n gemeenskap wat jou nie net versterk in jou beroep nie, maar dit is ’n gemeenskap waar jy tuis voel, saam werk en saam leer. Dit is ’n gemeenskap wat hom daarop toespits om die beroep te beskerm, vir jongmense loopbaangeleenthede te skep, as waghond toesig te hou oor die beroep én met werkbare oplossings vir uitdagings vorendag te kom.

Die Beroepsgildes neem die tradisionele waardes naamlik kwaliteit, behoud, gemeenskapsgevoel en trots ter harte sodat elkeen die geleentheid het om hulself op hul loopbaanpad na meesterskap onmisbaar en uitnemend te maak. Gemeenskaplike waardes bied aan elke gildelid iets om in te glo, asook ’n platform om terug te ploeg en kennis te deel deur netwerkgeleenthede, werkskepping of mentorskap. As ’n Solidariteit-lid het jy outomaties toegang tot ’n beroepsgilde wat weer vir jou toegang gee tot bykomende voordele uniek aan dié spesifieke beroepsgilde wat op jou beroep van toepassing is.

Die sewe pilare van Solidariteit Beroepsgildes

  1. Plasings – Deur ons aanlyn portaal help ons jou nie net om werk te kry nie, maar ons help ook jongmense om ʼn beroep te kan betree.
  2. Netwerk – Gildes bied geleenthede vir jou om saam met ander in jou beroep te kan netwerk en kennis te deel.
  3. Mentorskap – Deur mentorskap bied ons ʼn morele rugsteun aan ons jongmense en kan jy leer van meesters in jou beroepsveld.
  4. Internskap – Gildes help jongmense om toegang te bekom tot internskappe in hul betrokke beroepsveld.
  5. Opleiding – Deur S-leer kan lede hul persoonlike ontwikkeling en kennis uitbrei, en is daar ook geleentheid om by Akademia kwaliteit kwalifikasies te bekom.
  6. Inligting – Kennis is mag, dus deel ons graag relevante inligting.
  7. Waghond – Ons beskerm jou in jou beroep, en staan op vir kwessies wat die sekuriteit, regverdigheid en kwaliteit van jou beroep mag beïnvloed.

Elke individu binne die gilde kan sy of haar eie loopbaanpad bepaal en relevant in sy of haar professie bly. Hoe sal dit werk?

‘n Groot komponent wat die Solidariteit se Beroepsgildes ondersteun is voortgesette leer deur die maatskappy S-leer, wat elke lid bemagtig om relevant in sy of haar beroep te bly, en ’n goeie werk te kry en dit te behou.

Die vermoë om vinniger as jou mededinger te leer mag dalk jou enigste volhoubare, kompeterende voordeel wees.

’n Kwalifikasie is steeds ’n gesogte kommoditeit en dit sal in die toekoms so bly, maar dit gaan moontlik in die arbeidsmark van die toekoms nie meer die alfa en die omega wees nie. Die wêreld se voorste tegnologie entrepreneur, Elon Musk, het verklaar dat grade nie ’n voorvereiste is om groot hoogtes te bereik nie. Hy sê die belangrikste is ontwikkeling en instandhouding van relevante vaardighede. Omdat grade in tegniese dissiplines vinnig uitgedien raak as gevolg van die vinnig ontwikkelende aard van dié sektor is lewenslange leer van kritieke belang.

Die aard van werk is besig om te verander. Hoewel mense steeds skeppend, sosiaal, mobiel en fisiek handvaardig is, moet hierdie menslike eienskappe, wat nooit gaan verdwyn nie, verweef word met nuwe tegnologie. Daar is net een antwoord op lewenslange verandering en dit is lewenslange leer.

Lewenslange leer is gebou op vier pilare, naamlik: Basiese onderrig, Hoëronderrig, Voortgesette opleiding en Heropleiding. S-leer fokus op die laaste twee pilare en sluit in beroepspesifieke opleiding, heropleiding en voortgesette opleiding. S-leer bemagtig lede met ekstra vaardighede wat jou onmisbaar in jou beroep sal maak.  Kursusse sluit onder andere in: Rekenaarvaardighede in Microsoft Excel en Word, Sagte vaardighede soos probleemoplossing en konflikbestuur, Beroepspesifieke vaardighede soos Verpleegsteropleiding, Kommunikasie, Bestuursvaardighede en vele meer. Dit sluit ook in ander relevante kursusse soos Skryfvaardighede,  Finansiële kennis, Leierskap, Projekbestuur en selfs ’n derde taal. Dit is maklik, modern en relevant.

S-leer maak gebruik van moderne leermetodes wat webinare en e-leer-kursusse insluit. Die gemengde leer model is ook uniek en gee die lewenslange leerder die geleentheid om kennis in te win deur interessante nuwe maniere van leer.

Voordele van lewenslange leer sluit in:

  1. Jy bly relevant
  2. Jy berei jouself voor vir die onverwagse
  3. Dit verhoog jou profiel
  4. Bevoegdheid lei tot vertroue
  5. Dit maak jou ontvanklik vir nuwe idees
  6. Dit verander jou perspektief
  7. Jy kan voordeel trek in die toekoms

Lede van Solidariteit Beroepsgildes kry tot en met 40%-afslag vir alle leerprogramme wat deur S-leer aangebied word en waar deur jy jou toekoms oop kan leer.

Raak vandag nog betrokke by jou beroepsgilde en ontvang voortgesette leer aangebied deur S-leer.