Deur Mynie Kriek

Dis net nog ʼn gewone werksdag. Dis vroegoggend en jy daag by die werk op. Nadat jy jou rekenaar aangeskakel het, stap jy kombuis toe om vir jou ʼn koppie koffie te maak terwyl jy met jou kollegas gesels. ʼn Rukkie later sit jy in jou kantoor en werk deur jou onlangse e-posse. Jou bestuurder verskyn in die deur en vra of hy met jou kan praat – en jy word yskoud. Dit is ongewoon, en met die opgevoude dokument wat jy in sy hand sien, verwag jy die ergste. Dis immers nie verhogingstyd nie!

Terwyl jou bestuurder die dokument aan jou oorhandig, lig hy jou in dat ʼn dissiplinêre verhoor teen jou gaan plaasvind. Die dokument in sy hand is ʼn kennisgewing van ʼn dissiplinêre verhoor en dit vind twee dae later plaas. Hy verduidelik dat jy geskors is (met betaling natuurlik!) tot die dissiplinêre verhoor afgehandel en daar ʼn beslissing is, maar dat jy darem die geleentheid het om te verduidelik hoekom jy nie geskors moet word nie.

Wat nou? Hoe verduidelik ʼn mens in die eerste plek hoekom jy nie geskors moet word nie, en as jy oor daardie hekkie gekom het, moet jy boonop jouself nog in ʼn dissiplinêre verhoor verdedig.

In jou agterkop dink jy aan Boston Legal. Dalk is daar ʼn argument wat jy daaruit kan haal wat sommer die hele dissiplinêre verhoor sal stopsit …

Min mense verstaan hoe ʼn dissiplinêre verhoor moet verloop, wat die werkgewer se regte in so ʼn verhoor is én wat die regte van die aangeklaagde werknemer is. As ʼn werkgewer moet jy verseker dat die proses billik verloop. Onkunde hieroor kan jou duur te staan kom. As ʼn werknemer is dit jou geleentheid om op die klagte teen jou te antwoord. As jy dit nie reg doen nie, is die gevolge ernstig – afhangend van waarvan jy aangekla word, kan jy moontlik jou werk verloor en boonop sit met ʼn klad op jou naam.

S-leer bied ʼn kursus oor dissiplinêre verhore aan. Die kursus gaan ʼn kombinasie van webinaarfasilitering en e-leer wees. Die kursus gaan in diepte ingaan op dissiplinêre verhore en die volgende aspekte gaan hanteer word:

  1. Die toepaslike wetgewing
  2. Die vereistes vir ʼn billike proses
  3. Hoe om te bepaal of ʼn reël of ʼn standaard verontagsaam is (in die geval van verhore wat met wangedrag te make het)
  4. Die reg op verteenwoordiging
  5. Skorsing voor ʼn dissiplinêre verhoor
  6. Voorbereiding vir ʼn dissiplinêre verhoor
  7. Hoe om aansoek te doen vir uitstel van die verhoor of verteenwoordiging in die verhoor
  8. Die algemene proses wat in ʼn dissiplinêre verhoor gevolg word
  9. Die aanbied van getuienis
  10. Die bewyslas
  11. Hoe teenstrydige getuienis benader moet word
  12. Die gevolge van versuim om vir ʼn dissiplinêre verhoor op te daag
  13. Moontlike uitkomste
  14. Dissiplinêre verhore in ʼn Covid-19-wêreld – die gebruik van tegnologie

Deelnemers moet seker maak hulle het ʼn profiel by S-leer geskep, waarna hulle die kursus (Die Aflegging prosedure in terme van die Arbeidsverhoudingwet) moet aankoop.

Die kursus gaan soos volg aangebied word:

Nadat deelnemers by Die Aflegging prosedure in terme van die Arbeidsverhoudingwet geregistreer het, gaan hulle toegang kry tot die e-leer-kursus, Dissiplinêre verhore – ʼn oorlewingsgids. Deelnemers gaan hierna twee (2) skakels na ʼn GoToWebinar-webinaar soos volg ontvang:

ʼn Verwelkomingswebinaar word op 28 Julie 2020 van 12:00 tot 13:00 gehou waartydens die fasiliteerder haarself gaan bekend stel en gaan verduidelik hoe die kursus aangebied gaan word.

Van 28 Julie tot 4 Augustus 2020 gaan die deelnemers die e-leer-kursus in hul eie tyd voltooi. Indien deelnemers enige spesifieke vrae het, het hulle die geleentheid om die vrae voor die einde van die werksdag op 3 Augustus 2020 aan te stuur.

ʼn Fasiliteringswebinaar vind van 10:00 tot 13:00 op 4 Augustus 2020 plaas. Die fasiliteerder gaan dan die kursusinhoud aanbied – met ʼn fokus op knelpunte en spesifieke kwessies waaroor deelnemers vrae ingestuur het. Tydens hierdie webinaar gaan deelnemers die geleentheid kry om vrae te vra of om insette oor die tema te lewer.

Die kursus beloof om insiggewend en interaktief te wees.