Deur Reon Janse van Rensburg

Dit is nooit wys om jouself met ander te vergelyk nie tensy jy dit doen omdat jy jouself wil verbeter, maar het jy al gewonder wat die verskil tussen jou en ʼn uiters suksesvolle persoon is? Wat is hulle geheim en wat moet jy doen om oor dieselfde eienskappe te beskik sodat jy ook sukses kan behaal?

Is dit bloot natuurlike talent waaroor hulle beskik, of lê daar meer agter suksesvolle mense se vermoëns?

Talle professionele sportpersone, bekende sangers, kunstenaars en so meer wat sukses behaal het, redeneer dat talent iets is waarmee jy gebore word en dat indien jy nie daarmee gebore is nie sukses in die onderskeie velde heel waarskynlik nooit binne jou bereik sal wees nie. Daar is ook diegene wat redeneer dat dit bloot geluk is wat aan hulle kant is en dat dít die rede is waarom hulle sukses behaal het.

Indien die bogenoemde waar was, sou ons uitkyk op die lewe taamlik somber gewees het. Dit sou beteken dat indien jy nie met ʼn talent gebore is nie en jy nie die geluk van iemand wat die lotto wen het nie, jy nooit sukses sal behaal nie.

Wat as jy egter só hardwerkend is dat jou toewyding jou die geleentheid bied om die nodige talent nie net aan te leer nie, maar om net so goed of selfs nog beter as diegene met natuurlike talent te wees?

Volgens navorsing deur sielkundiges in die VSA, sal jy selfs beter kan vaar as die slimste individue wat uitsonderlike talent toon, solank jy heelwat harder as hierdie persoon of persone werk. Volgens hierdie navorsing krimp die verskille tussen talentvolle mense en dié wat minder talentvol is drasties wanneer albei hierdie persone hard werk. Dit beteken dat talent steeds iets werd is, maar dat harde werk jou bo ʼn talentvolle persoon kan laat uitstyg.

Vir die gewone persoon op straat behoort hierdie nuus goeie nuus te wees. Dit is net slegte nuus vir diegene wat oor ʼn talent beskik, maar nie bereid is om hard genoeg te werk nie. Indien jy werklik hard werk, al is jy nooit die heel beste in jou beroep nie, kan jy die beste word deur die toppresteerders wat oor goeie talent beskik ʼn kompetisie te gee deur skouer aan die wiel te sit en nie te skroom om altyd harder as hulle te werk nie.

Buitengewone talentvolle mense is dikwels buitengewoon skaars. Net so is hardwerkende mense ook redelik skaars. Dit beteken dat jy heel waarskynlik teen ʼn persoon wat werklik talentvol is, of teen ʼn persoon wat dalk minder talentvol is, maar wie se werksetiek daarvoor opmaak gaan kompeteer. Die belangrikste is egter om altyd hard te werk.

Dit is ook belangrik om te onthou dat jy verskillende talente het; sommiges daarvan wat jy moontlik nie in jou beroep gebruik word nie. Daar is nie ʼn persoon wat geen talente het nie. Indien jy nie weet wat jou talente is nie, begin vandag die reis om uit te vind. Jy vind heel moontlik veel meer as net een.

“Harde werk klop talent wanneer talent nie hard werk nie.” – Tim Notke, basketbalafrigter

 

Bronne:

Talent vs. Hard Work — The Truth Behind Success – https://medium.com/the-logician/talent-vs-hard-work-the-truth-behind-success-363963ac1e5a

Hard Work Beats Talent (But Only If Talent Doesn’t Work Hard) – https://www.psychologytoday.com/za/blog/the-procrastination-equation/201110/hard-work-beats-talent-only-if-talent-doesn-t-work-hard

Hard Work Beat Talent (But Only If Talent Doesn’t Work Hard) – https://procrastinus.com/2014/04/16/hard-work-beat-talent-but-only-if-talent-doesnt-work-hard/