Deur Reon Janse van Rensburg

Jy is dalk oor die algemeen gaande oor jou werk en jou kollegas, maar die meeste beroepe vereis dikwels dat jy soms take moet afhandel wat nie noodwendig vir jou die meeste genot bring nie. Hoewel ons almal voorkeure het oor watter take ons eerder op sal wil fokus, leef en werk ons nie in ʼn perfekte wêreld nie. Om egter daai kollega of bestuurder te wees wat die “slegter” take op ander kollegas afsmeer is ook nie die antwoord nie.

In werklikheid het min van ons regtig die luukse om nie aandag aan take te gee waaroor ons nie so gaande is nie. Dit beteken dat ons self moet sorg dat hierdie take, nes die take waarvan ons hou, wel op dieselfde standaard voltooi word.

Hetsy die take vervelig is, soms lank neem om te voltooi, of bloot net van jou tyd neem wat jy eerder aan ander take wou spandeer, is daar egter maniere om ʼn bietjie genot daaruit te put as jy weet hoe om hierdie take te benader.

Hoe kan jy dit vir jouself makliker maak om aan hierdie take te werk?

Sien die groter prentjie raak

Hoe en wat ons dink het ʼn groot invloed op ons ingesteldheid en ook dikwels op die uitkoms van ʼn taak. Jy kan kies om slegs daaraan te dink as moeisaam of oninteressant, maar dit gaan jou denkwyse slegs verder negatief beïnvloed. Probeer eerder dink aan die moontlike positiewe uitkoms waartoe die afhandeling van die taak kan lei soos om erkenning by jou bestuurder te kry, dalk ’n finansiële wins te maak, óf hoe dit daartoe kan bydra om die onderneming waarvoor jy werk selfs nog meer suksesvol te maak.

Wissel take waarvan jy hou en waarvan jy nie hou nie af met mekaar

Daar is iets ergers as om ʼn taak af te handel waarvan jy nie hou nie en dit is om ʼn taak waarvan jy nie hou nie af te rammel om dit bloot te voltooi. Nie net gaan dit jou motivering beïnvloed nie, maar dit gaan waarskynlik daartoe lei dat jy die taak gaan moet oordoen en ook moontlik in die proses by jou bestuurder in die moeilikheid gaan beland.

Om die tyd wat jy aan take spandeer, beide dié waarvan jy hou en nié hou nie, te vergemaklik, is dit eenvoudig makliker om tussen die twee af te wissel. Dit bring balans tussen die lekkerder en slegter take sodat jy nie voortdurend slegs op die slegter take hoef te fokus nie.

Neem klein stappe

Dalk is jy al só oor die take waarvan jy regtig nie hou nie en wat jou werklik verveel dat jy dit glad nie wil doen nie. Om jouself te dwing om hierdie take aan te pak, gaan bloot net die druk, wat jou moontlik reeds daarvan weerhou om jou beste werk te lewer, op jou verhoog.

Verdeel die take in kleiner dele en stel realistiese doelwitte. Begin deur elke taak op te deel in kleiner dele wat jy voel haalbaar is.

Skep ʼn skedule

Breek jou dag op in verskillende dele wat jou in staat sal stel om jouself voor te berei op die dag. Begin met ʼn taak waarvan jy hou en skakel daarna oor na een waarvan jy nie so baie hou nie. Skeduleer egter jou dag só dat jy daarna kan uitsien om lekkerder take aan te pak. Probeer jou bes om nie werk uit te stel nie omdat dit bloot moeiliker raak om teen ʼn Vrydagmiddag, wanneer jy reeds na die naweek uitsien, aandag aan slegter take te gee.

Neem ʼn blaaskans

Wanneer jy aan die slegter take werk kan dit werklik geestelik uitputtend raak. Dit kan daartoe lei dat die energie wat jy vir die hele dag moet gebruik sommer vinnig opraak, selfs nog lank voordat die dag verby is. Luister tussendeur na jou gunsteling musiek, gaan stap om die kantoorblok of gaan klets vinnig met een van jou kollegas oor iets wat nie werkverwant is nie. Jou brein het nodig om vir ʼn paar oomblikke af te skakel en te ontspan.

Beloon jouself

Wanneer jy ʼn mylpaal bereik, hoe groot of hoe klein ook al, is dit tyd om jouself te beloon. Indien jy dit vermag het om sekere minder aangename take af te handel kan jy jouself beloon op maniere waarvan jy hou. ʼn Sjokolade is nie altyd so ʼn slegte idee nie!

 

Bron:

Coping with tasks that you don’t like – https://www.techadvisory.org/2014/04/coping-with-tasks-that-you-dont-like/