Ons verwag so baie van tegnologie, maar verwag ons dan minder van ander? Laat ons toe dat ons tegnologiese toestelle en aanlyn profiele ons as mense se konneksie en kommunikasie met mekaar herdefinieer?

Die wêreldbevolking is almal aanlyn verbind – sommiges vorm deel van WhatsApp-gemeenskappe, ander het profiele op Instagram en Facebook. Ons politoer daardie persona en meet die waarde daarvan aan die hoeveelheid “likes” wat ons kry, maar diep binne is die mens alleen, en hunker hy of sy eintlik na iets groter as hulself en om êrens te behoort.

Die selfoon verander nie hoe ons dinge doen nie, maar verander wie ons is. Die mens is deurlopend besig met selfone en ander tegnologiese toestelle, en ek meen dit kan op moeilikheid afstuur. Ons raak gewoond daaraan om alleen ‘saam’ te wees, verbind tot al die ander plekke behalwe die een waar jy tans is; afgesny van die emosie of die geselskap waarin jy jouself tans bevind. Ons kruip weg vir mekaar al is ons almal aan mekaar verbind.

Ons wil verhoudings met ander mense bou, net nie te naby nie, maar ook nie te ver nie. Ons wil dit kontroleer, maar hoe leer ons kinders om verhoudings te bou en geselskap te voer. Hoe sal die agtienjarige wat wil leer hoe om ’n ordentlike gesprek te voer, dit leer as die grootmense self agter hulle fone wegkruip.

Wat is fout met een-tot-een gesprekke? Dalk is dit die feit dat dit intyds gebeur, en dit kan nie geredigeer of uitgevee word nie. Mens kan dit nie kontroleer nie.

Menseverhoudinge kan verrykend, maar soms ook morsig en geweldig veeleisend wees, en ons wil dit met tegnologie regstel. Ons offer een-tot-een gesprekke vir tegnologie op. Ons moet gesprekke voer om mekaar te kan verstaan, want dit is belangrik, meer so vir die kind wat dit moet aanleer.

Ons leef in ’n tyd waar almal voel dat niemand na hulle luister nie en daarom skep ons aanlyn profiele, wat ons as die belangrikste in ons lewe ag, want dit word outomaties ons luisteraars. Ons ontwikkel sosiale robotte wat ons metgeselle is en so verloor die mensdom baie selfvertroue.

Ons verwag meer van tegnologie en minder van mekaar. Die oomblik as mense alleen is, raak hulle angstig en dié probleem moet deur kommunikasie opgelos word.

Ons raak al hoe meer verbind, maar isoleer onsself ook terselfdertyd al hoe meer. Ons glo deur altyd tegnologies verbind te wees, sal ons minder alleen wees. Ons moet ons kinders leer hoe om nie eensaam te wees wanneer hulle alleen is nie, maar werklike verbindings te vorm deur middel van nie-tegnologiese gesprekke.

Dit is tyd om te gesels en ook tyd om na mekaar te luister.