Deur Reon Janse van Rensburg

Elke mens wat jy ontmoet beskik oor kennis waaroor jy nie beskik nie. Die kelner by die koffiewinkel is dalk ʼn student wat amper sy of haar mediese studie afgehandel het; jou afgetrede buurman wat vroeg op ʼn Saterdagoggend gras sny, is dalk ʼn kranige boekversamelaar wat boeke verslind en steeds op sy ouderdom sy kennis oor die wêreld bly verbreed. Selfs die persoon met wie jy die meeste in die werkplek meeding, het kennis oor dinge waarvan jy nie noodwendig weet nie en ook omgekeerd.

Die wonderlike ding van kennis is dat ʼn mens nooit te oud is om nuwe kennis op te doen nie. Hoewel ʼn mens baie daarby kan baat om formele kennis deur formele opleiding te verwerf, is daar ander maniere waarop jy steeds jou kennis kan verbreed sonder dat dit baie tyd gaan verg of selfs geld hoef te kos.

Die mense om jou en in jou lewe beskik oor soveel inligting of kennis. Die meeste mense is ook bereid om hul kennis met jou te deel. Al wat dit verg is ʼn bietjie nuuskierigheid om meer omtrent die persoon en die mens se kennis uit te vind en dan natuurlik ook om die regte vrae te stel sodat jy weet wat jy by elke persoon kan leer. As jy nie gaan vra nie, gaan jy nie weet nie. Kan jy jou voorstel as mense soos Elon Musk of Albert Einstein nie nuuskierig genoeg was om vrae te stel nie! ʼn Mens wonder nogal hoeveel kennis hulle bloot verwerf het deur nuuskierig te wees.

Hoe kan ek by die mense om my leer?

  • Toon opregte belangstelling in die mense om jou

Ons weet dat dit nie altyd moontlik is om ʼn indieptegesprek met die mense om jou te hê nie. Dalk ken jy nie al jou kollegas ewe goed nie en dit klink vir seker vreemd om ʼn spul persoonlike vrae aan ʼn vreemdeling op straat te vra, maar opregte belangstelling in ʼn persoon lê egter aan die ander kant van gewone en alledaagse mooipraatjies. Dit verg ʼn eerlikheid van ʼn mens en dit beteken ook dikwels dat jy jouself gaan blootstel deur aan ander te wys wie jy werklik is. Dit is beslis nie sleg nie, al is dit aan die begin dalk ietwat moeilik.

Wanneer jy egter die eerste een is wat wys dat jy werklik in ʼn ander belangstel, met die klem op “werklik”, stel jy die ander persoon gerus deur te wys dat jou bedoelings opreg is, en uit ʼn plek van omgee en belangstelling kom. ʼn Belangstelling in ander is ʼn belangrike aspek wat nodig is om vertroue aan te wakker. In sy boek, How to Win Friends and Influence People, skryf Dale Carnegie: “Jy kan in twee maande meer vriende maak deur in ander mense belang te stel as wat jy in twee jaar kan regkry deur te probeer om ander in jou te laat belangstel.” Ons moet eers werklik nuuskierig wees oor ʼn persoon voordat ons iets van hulle kan leer. Ontwikkel ʼn nuuskierigheid (die goeie soort) oor die mense om jou.

  • Daar is ʼn verskil tussen gesprekvoering en ondervraging

Die meeste van ons geniet dit om na radioprogramme te luister en veral na onderhoude met kundiges. Die eerste ding wat ʼn mens in so ʼn onderhoud opval, is dat die gesprek nie slegs deur die aanbieder aan die gang gehou word nie, maar dat ʼn gesprek tussen die aanbieder en die gas aan die gang is en die gesprek is dus wederkerig.

Dieselfde gebeur wanneer ons iets by iemand probeer leer. Dit moet ʼn wederkerige proses wees waarin jy werklik aandag gee aan wat gesê word en dit moet ʼn proses wees waaraan jy wil deelneem. Ons moet dus voorberei vir so ʼn gesprek. Gaan lees op oor ʼn onderwerp wat jy graag met die persoon wil bespreek en neem deel aan die gesprek. Moenie bloot vrae vra om die gesprek aan die gang te hou nie. Dink maar aan gesoute radio-omroepers wat almal oor die vermoë beskik om nie net goeie vrae te vra nie, maar wat ook in staat is om aan die gesprek deel te neem.

  • Kyk na die geheelprentjie van die mense om jou en nie net na ʼn deel daarvan nie

Dit is maklik om iemand te vra hoe hulle ʼn sekere taak verrig het of hoe hulle sukses behaal het. Dit verg gewoonlik slegs ʼn kort antwoord om so ʼn vraag te beantwoord, maar wat het jy dan eintlik by die persoon geleer? Kon jy dalk meer leer as jy geweet het waarom die persoon met ʼn sekere probleem gesukkel het of as jy die hele storie gehoor het oor hoe die persoon eers gesukkel het voordat hy of sy sukses behaal het?

Ons almal hou van stories. Luister na ander mense se volle storie sodat jy nie die groter prentjie mis en die geleentheid verbeur om iets nuuts in die proses te leer nie.

 

Bron:

How To Learn From People Around You (Even If They Have Different Views) – https://www.forbes.com/sites/samanthaharrington/2016/11/29/how-to-learn-from-people-around-you-even-if-they-have-different-views/?sh=28da954d4e01