Die rol wat kantoorpraktisyns vervul is van kardinale belang vir die funksionering en sukses van ʼn organisasie. Dit is die agter-die-skerm-take wat hardwerkende kantoorpraktisyns verrig wat ʼn besigheid se enjin aan die gang hou en wat so dikwels ongesiens verbygaan. Dit is ook ʼn mededingende mark, juis vanweë die misleidende persepsie dat enige persoon ʼn administratiewe werk kan doen.

Solidariteit se Beroepsgilde vir Kantoorpraktisyns is jou loopbaanvennoot wat jou deel maak van ʼn netwerk wat jou ondersteun, jou uitdagings verstaan, jou ontwikkel en lei tot sukses en meesterskap in jou betrokke beroep. Die Gilde vir Kantoorpraktisyns is vir enigeen wat ʼn administratiewe rol of funksie in ʼn organisasie vervul – dit wissel van administratiewe klerke, kantoorbestuurders en sekretaresses tot ontvangsdames.

Vir baie kantoorpraktisyns is die rol wat hulle in die maatskappy vervul ook hul passie. Hulle geniet die uitdagings wat die werk bied en is kenners op hul betrokke gebied. ʼn Administratiewe pos word dikwels as ʼn intreevlakpos in ʼn maatskappy beskou wat aan ʼn persoon geleentheid gee om ervaring op te doen, sy of haar kennis uit te brei en om hopelik die suksesleer te begin klim. Die realiteit is dat kantoorpraktisyns moeilike en soms ondankbare werk verrig, dat hul rol dikwels onderskat word en dat hulle nie altyd geleentheid vir verdere ontwikkeling kry nie.

Die Beroepsgilde vir Kantoorpraktisyns is trots op alle praktisyns wat toegewyd is en hul beroep met trots en passie beoefen. Hierdie praktisyns word ook dikwels in hul organisasies gesien as mentors en kenners in hul beroepsveld. Wat jou status as kantoorpraktisyn ook al tans mag wees, jy kan nie net staatmaak op jou ervaring nie. Lewenslange leer bly ʼn móét. Leer en ontwikkeling is nou, meer as ooit tevore, van kardinale belang vir jou.

Het jy al gehoor van die vierde nywerheidsrevolusie? In die lig van tegnologiese ontwikkelings kan mense tereg bekommerd wees dat hul rol of funksie binnekort deur ʼn robot vervang kan word. Aan die positiewe kant moet jy onthou dat geen masjien die persoonlike kontak wat sosiale kommunikasie bied kan vervang nie. Dit is juis nou die perfekte geleentheid om tegnologie tot jou voordeel aan te wend om jouself verder te ontwikkel en jou vaardighede uit te brei.

Deur deel te neem aan elektroniese leerprogramme en webinare kan daardie verdere ontwikkeling en uitbreiding van jou vaardighede in die gemak van jou eie kantoor gebeur. Seminare bevat nie net ʼn opleidingskomponent nie, maar bied ook netwerkgeleenthede. S-leer is daarvoor gerat en bied ʼn mandjie vol leersame en interessante programme waaraan jy kan deelneem.

Gildelede ontvang 40%-afslag vir enige opleidingsessie wat S-leer aanbied. Alle programme is prakties, van uitstekende gehalte en word deur kenners en spesialiste aangebied – alles in Afrikaans!

Meimaand is propvol programme wat spesifiek vir jou as kantoorpraktisyn bedoel is:

  • ʼn Basiese Microsoft Excel-kursus (14 Mei)
  • ʼn Gevorderde kursus in MS Excel (22 – 23 Mei)
  • Outlook-produktiwiteit (28 Mei)
  • Positiewe energie en hoe om uitbranding te voorkom (28 Mei)
  • Werksetiek
  • Netiket (e-pos-etiket)
  • Basiese administratiewe vaardighede en wenke om dit op te skerp

Vir meer inligting oor die programme, of om daarvoor te registreer, besoek www.s-leer.co.za

Ons moedig jou aan om verantwoordelikheid te aanvaar vir jou eie sukses en steun jou op jou pad tot meesterskap, ongeag waar jy jouself tans in jou loopbaan bevind. Raak vandag nog deel van hierdie netwerk van werk!