Deur Brigitte Raath

Is die toestand van die pasiënt kritiek of krities?

Sal jy dit waardeer of waardeur as ek die ete bywoon?

Word paaie onderhou of in stand gehou?

Ek beskou myself as ʼn redelike taal-Nazi.  Spel- en taalfoute grief my en wanneer daaroor gekla word, sê baie mense doodgewoon dit is nie meer belangrik om taal- en spelreëls te ken nie, want almal verstaan tog wat hulle bedoel. Moderne tegnologie soos selfone en selfs Facebook het ʼn nuwe en dikwels irriterende manier van skryf tot gevolg. Woorde en sinne word sonder enige spel- of grammatikareëls geskryf of afgekort. Mense gee al hoe minder om hoe hulle spel en gewone taalfoute is aan die orde van die dag. Afrikaanse grammatika is in die moeilikheid en myne was bykans ook.

Ek het onlangs S-leer se Spel-, taal- en skryfvaardigheidskursus bygewoon waar ons fasiliteerder, Salomé Coertze, ons by aankoms met ʼn speltoets (wat ek byna gedop het) verras het. Deur skade en skande word ʼn mens wys en teen die einde van die eerste dag  is ons behoorlike touwys gemaak oor waar en wanneer ʼn apostroof, aksentteken, deelteken, hoof- en kleinletters gebruik word, wat die korrekte afleidings, samestellings en meervoudsvorme van woorde is en is ons kennis van woordsoorte, normeringsgronde, woordorde, los- en vasskryf van woorde behoorlik opgeskerp.

Die tweede dag het met nog ʼn toets afgeskop waarin ek sommer stukke beter gevaar het. Daar is aan ons skryfvaardighede getimmer en ons het die verskillende skryfstyle van rubrieke, artikels, verslae, resensies tot blogs bespreek. Ons hou ook kamma-vergadering en word meesters van die opstel van sakelyste asook notuleringsvaardighede. Salome se passie vir die Afrikaans is aansteeklik en het ons almal aan die brand gehad.

Aan die einde van dié twee leersame dae gaan ek vir seker nooit weer vergeet dat:

  • Skeppend beter is as kreatief en mening mooier is as opinie.
  • Ek waardeer jou moeite, maar die deur waardeur ek moet loop, is gesluit.
  • ʼn Mens kan verskoning vra of om verskoning vra maar daar bestaan nie ʼn woord soos “omverskoning” of “onverskoning” nie.
  • Ek herinner jou om nie die volgende kursus mis te loop nie.

En laaste, maar nie die minste nie… ʼn Miljard is ʼn duisend miljoen en ʼn biljoen is ʼn miljoen keer miljoen, maar billion is nie ʼn biljoen nie, want billion is ʼn duisend miljoen en derhalwe ʼn miljard.