Deur Paulize Mahon

Met 15 jaar se werksondervinding het ʼn mens al baie te doen gehad met verskillende mense, verskillende kollegas en verskillende bestuurders.  In my hele loopbaan was ek nog net geseën met goeie bestuurders, en by elkeen het ek iets geleer. Elke bestuurder en selfs kollegas het as mentors gedien vir ʼn spesifieke tyd tot ek bevorder is of totdat my bestuurder bevorder is.

So praat ek met my vriende oor hoe gelukkig ek is in my werk, en watter goeie leierskap ons by die Solidariteit Beweging het, en dan begin ʼn mens hoor dat almal nie so gelukkig is in hulle werk nie.  Ek hoor by vriende hoe hulle bestuurders op die personeel skreeu en hulle verkleineer en nie reg behandel nie, en ek besef ek ken dit nie.  Ek weet nie wat dit is dat my bestuurder by die werk op my skreeu of my verkleineer nie.

So kom ek agter dit is ʼn algemene gevoel van werknemers dat hulle oorwerk is, en dat jy soveel ekstra insit maar niks terugkry behalwe jou salaris nie.  Mense is vinnig om te sê die dankie wat jy kry is jou salaris, maar het ons al ooit gesit en wonder watter groot verskil die woorde “dankie vir jou harde werk” maak?  Wat gebeur as jy wel vir jou werknemers of personeel dankie sê as jy sien daar word ekstra hard gewerk of moeite gedoen?  En hoe voel jy as werknemer as daar vir jou dankie gesê word vir die ekstra moeite wat jy ingesit het?

Ek dink terug aan ʼn week gelede toe my bestuurder vir my ʼn e-pos gestuur en versoek het om in die daaropvolgende week met my ʼn individuele gesprek te voer en dat ons dit so gou as moontlik moet afhandel.  Ek dink toe dadelik daar is moeilikheid, want in die pandemie wat ons vandag belewe hoor ʼn mens net van dinge soos “jammer, ons kan jou nie meer bekostig nie, so ons moet jou laat gaan”, of ʼn mens hoor van salarisse wat gesny word, of ʼn mens is dadelik op jou hoede en verwag die ergste.  Ek vra toe nog so ewe of ons maar liewer dieselfde dag die gesprek kan voer sodat ek enige slegte nuus wat ek mag kry dadelik agter die rug kan kry en dit kan begin verwerk, anders gaan ek in elk geval net wakker lê en my oor die slegste moontlike scenario’s bekommer.  So het ons toe die gesprek en hy wou toe net vir my dankie sê vir die laaste paar maande se toewyding en harde werk, en ek wag heeltyd vir die “maar”…  Daar kom egter nie ʼn “maar” nie, en ek besef toe dit is regtig net ʼn gesprek om dankie te sê en terugvoering te gee, en ʼn mens voel sommer dadelik goed.  Na die gesprek het ek sommer nuwe energie om groot take aan te pak en vandag ekstra baie moeite in te sit, want dit is nie net ʼn salaris wat ek aan die einde van die maand kry nie, maar ook erkenning en in ʼn mate respek.

So wonder ek of bestuurders besef wat so ʼn “dankie-sê-gesprek” regtig vir die personeel beteken, en watter positiewe invloed dit op jou gesindheid teenoor jou werk het en ook teenoor die bestuurder aan wie jy rapporteer. Ek onthou toe ek nog studeer het, hoeveel keer ek oor interne en eksterne motivering geleer het, en ek wonder toe hoeveel bestuurders vir hulle personeel dankie sê as hulle sien daar is ekstra moeite ingesit, of as ʼn goeie stuk werk gelewer is.

Om ʼn goeie leier te wees beteken nie altyd jy moet al die antwoorde hê en presies elke minuut van die dag weet wat volgende gaan gebeur nie. Dit begin by die klein dingetjies – ʼn  dankie kan baie ver gaan om personeel se produktiwiteit, motivering en werkstevredenheid te bevorder.

Dus, vir elke persoon wat dit vandag nodig het, dankie vir jou harde werk wat jy doen om die land met ekonomiese groei te help. Ongeag of jy vloere was en of jy ʼn maatskappy bestuur, jy is so belangrik in jou werk wat jy doen, en jy maak ʼn groot verskil om ʼn sukkelende land te help!