Deur Reon Janse van Rensburg

Onsekerhede is ongetwyfeld deel van ons lewens. Vir die meeste van ons voel dit asof die volgende onsekerhede die voriges se plek in ons lewens inneem ons sodra ons die meeste onsekerhede onder beheer het. Onsekerhede laat ons met die weerlose gevoel dat ons nie in beheer van ons eie lewens is nie en dat ons dikwels net toeskouers is wat toekyk hoe ons lewens voor ons afspeel.

Om die waarheid te sê, daar is min tye in ons lewens waar ons van onsekerheid hou behalwe wanneer ons miskien een van Deon Meyer se boeke beet het en die spanning van bladsy tot bladsy opbou, of wanneer ons ʼn kans om die tafels of masjiene by die casino waag.

Mense smag net so veel na inligting oor die toekoms as wat ons na kos en ander behoeftes en begeertes smag. Ons brein beskou dubbelsinnigheid as ʼn bedreiging en probeer ons beskerm deur slegs op die dinge te fokus wat vir ons sekerheid bied.

Normaalweg neem ons brein besluite vir die toekoms gebaseer op vorige ervarings. Wanneer die toekoms egter onseker is en ons met ʼn nuwe ervaring of scenario gekonfronteer word, is dit egter nie moontlik om staat te maak op vorige ervarings nie en dit het ʼn invloed op ons besluitneming. Dít laat ons dan ook met onsekerheid.

Volgens Greater Good Magazine toon navorsing dat werkonsekerheid geneig is om ʼn groter tol op ons gesondheid te neem as om werklik ons werk te verloor. Net so het deelnemers wat aan die navorsing deelgeneem het en meegedeel is dat hulle ʼn 50%-kans het om ʼn pynlike elektriese skok te ontvang, baie meer angstig geraak as deelnemers wat vas oortuig was dat hulle beslis die skok gaan ontvang.

Dit dui aan dat die onsekerheid van persone wat glo dat hulle dalk of dalk nie geskok gaan word nie, erger op hulle psige is as diegene wat reeds aanvaar het dat hulle die skok gaan ontvang. Miskien is dit dus meer effektief om sekerheid te probeer skep omdat ons geensins weet wat die toekoms inhou nie, en miskien moet ons ons gesindheid daarteenoor verander.

Hoe hanteer ons die lewe wanneer dit voel of die onsekerhede die toekoms verduister?

  1. Moenie alles glo wat jy dink nie

Die beste taktiek om stres te verminder is om uit jou eie gedagtes te klim. Ons brein soek sekerheid en sal na talle scenario’s gryp sodat ons onsself op die toekoms kan voorberei. Baie van hierdie scenario’s wat ons uitdink, sluit dikwels die ergste in. Hoewel dit goed is wanneer jou brein homself voorberei op die ergste sodat jy die risiko’s kan opweeg, raak dit sleg wanneer jy hierdie gedagtes begin glo omdat jy dan waarskynlik emosioneel reageer asof die ergste geval werklik reeds plaasvind.

  1. Moenie weerstand bied nie

Dalk is jou werklikheid op dié oomblik een wat gevul is met stresvolle omstandighede. Werk, finansies, jou huwelik, kinders en talle ander dinge verg jou aandag en dit kan soms oorweldigend voel. Om egter hierdie werklikhede te weerstaan, sal jou nie help om te herstel, te groei of selfs beter te voel nie. Dit is nogal ironies hoe weerstand ons pyn en probleme dikwels verleng deurdat dit die uitdagende emosies wat ons beleef versterk.

Beoefen aanvaarding. Dit is veral selfaanvaarding wat die intuïtiewe geheim vir geluk is. Aanvaarding gaan daaroor om die lewe te leef hoe dit tans is en van daar af vorentoe te beweeg.

  1. Gee aandag

Volgens Greater Good Magazine is die teenoorgestelde van onsekerheid nie sekerheid nie, maar eerder teenwoordigheid. Wanneer ons met ʼn onsekere toekoms gekonfronteer word, dink ons onmiddellik aan die onbekende en hoe dit vir ons skrikwekkend is en kan wees. Dit laat ons in die toekoms leef en nie in die hier en nou nie. Klim terug in die oomblik waar jy nou is en vra jouself af hoe dit op hierdie oomblik gaan en wat jy nou kan beheer. Ons kan beheer waaraan ons aandag gee deur in die oomblik te leef.

 

Bronne:

Seven Ways to Cope with Uncertainty – https://greatergood.berkeley.edu/article/item/seven_ways_to_cope_with_uncertainty

4 tips to help you tackle confusing, uncertain, and stressful times like these – https://www.insider.com/guides/health/mental-health/how-to-deal-with-uncertainty