Siektemodelperspektief op Substansafhanklikheid

In die voorafgaande twee artikels is gefokus op die wyse waarop substansmisbruik tot ʼn lewensgevaarlike afhanklikheid ontwikkel. S-Leer bied op 23 Augustus ’n VPO- (CPD) werkswinkel aan wat professionele persone asook vrywilligers sal bemagtig om substansmisbruik en -afhanklikheid omvattend te verstaan. ’n Bio-psigososiale begrip van substansafhanklikheid bevorder ʼn heelpersoonbenadering en behandeling-intervensies. Vanuit ’n siektemodelperspektief gesien, , ontwikkel substansafhanklikheid deur fases in ’n mediese diagnose wat behandeling deur professionele persone noodsaak. Verantwoordelike behandeling van afhanklikheid verg ’n multiprofessionele benadering tot die persoon wat die diagnose ontvang het.

Die siektemodelperspektief beskou substansafhanklikheid as ʼn siekte wat geleidelik deur fases ontwikkel. Soos Visser (in Erlank 2002: 61-62) aangedui het, lyk dit of die funksie van substansafhanklikheid in elke fase van die siekteprogressie verskil; die drie fases is: sosiale, patroon- en fisieke afhanklikheidfases.

Gedurende die sosiale fase gebeur dit dat die persoon per geleentheid substanse gebruik en selfs met verskillende soorte substanse eksperimenteer. Die persoon mag klein hoeveelhede van die substans gebruik of selfs by geleentheid misbruik. In die algemeen is die risiko betrokke by hierdie gebruik laag; die persoon ervaar min of geen negatiewe effekte as gevolg van die substansgebruik nie. Dit is ook in dié fase waar daar meer positiewe funksies met substansgebruik geassosieer word. Dit mag selfs wees dat die gebruik van substanse geassosieer word met die gevoel dat die individu meer aanvaarbaar is, dat depressie of eensaamheid verlig word, en selfs dat meer selfvertroue ervaar word. Substansgebruik mag vele funksies vir die gebruiker inhou; kortom, kontak met die substans is in die algemeen ’n positiewe ervaring vir die gebruiker en daarom gebeur dit dat kontak met die substans telkens herhaal word (Botes & Schenck 2015; Erlank 2002:61).

Die volgende fase behels die herhaalde gebruik van substanse, en die gebruik en soms misbruik daarvan begin dan ’n patroon in die persoon se gedrag te vorm. In die patroonfase word geleenthede geskep om die substans te gebruik, die hoeveelhede van die substans neem toe en die tydperke tussen gebruik verkort. Substanse kan selfs in die patroonfase gebruik word om “babelas” of ernstige onttrekking te verlig. In hierdie stadium begin die persoon besef dat substansmisbruik met bepaalde risiko’s assosieer word en gesinslede mag ook in dié fase hul kommer oor die persoon se gebruik of misbruik uitspreek. Dit kan ook gebeur dat die persoon deur die werkgewer oor substansgebruik aangespreek word of die persoon kan selfs in konflik met die reg kom. Die funksie van die substans is om die persoon te help om makliker by situasies aan te pas, al word problematiese sosiale funksionering in hierdie fase ervaar (Botes & Schenck 2015; Erlank 2002:61,62).

Die laaste fase, die fisieke afhanklikheidfase, word gekenmerk aan substansgesentreerde funksionering. Die substansmisbruik begin nou om ʼn ernstige impak op die gebruiker se fisieke, sosiale, professionele en sielkundige lewe te hê. Die funksionering raak in so ’n mate substansgesentreerd dat die gebruiker nie meer sonder substanse kan funksioneer nie (Schultz 2016:184-187; SHH 2016:27-33). Sodra die gebruiker kontak met die chemiese substans gemaak het, wil dit voorkom of beheer verloor word oor hoeveel en hoe dikwels dit gebruik word. Hierdie beheerverlies, wat deels deur onttrekkingsimptome aangedryf word, het betrekking op die gebruik (of nie-gebruik) van die chemiese substans in die fisieke afhanklikheidfase. Onttrekkingsimptome word ervaar, en die funksie van gebruik is om fisieke, emosionele en sielkundige ongemak te verlig (Botes & Schenck 2015; Erlank 2002:61,62).

Die geheel van die persoon word negatief deur substansafhanklikheid geraak. Substansgesentreerde funksionering raak die afhanklike persoon se liggaam, emosies, optrede, ervarings, persepsies, denke, waardes asook gesins- en geestelike lewe negatief. Substansmisbruik, onttrekkingsimptome, sielkundige ongemak en spanning, die behoefte aan aanvaarding en om net “jouself te wees”, asook die behoefte aan euforiese ervarings is in die proses onderling met mekaar verbind. Substansafhanklikheid kan dus nie deur slegs een benadering behandel word nie, maar verkieslik deur gesamentlike insette soos vervat in die dissiplines van geneeskunde, verpleegkunde, psigiatrie, maatskaplike werk, sielkunde, arbeidsterapie en geestelike konsultasie. Die implikasie vir praktyk is ʼn proses van fisiese en psigososiale fasilitering van die substansafhanklike se genesing in die proses van ontdekking en aanvaarding van self, ervarings, persepsies en gedrag (Botes & Schenck 2015; Grobler, Schenck & Mbedzi 2013; Rogers 1987). In die volgende artikels sal S-Leer fokus op die behandelingsopsies soos voorgeskryf deur die Wet op Voorkoming en Behandeling van Substansmisbruik (No.70 van 2008).

Bronne

Botes, J & Schenck, C. 2015. “If a person uses alcohol the real you comes out”: Exploring the self, sexual experiences and substance abuse. Social Work/Maatskaplike Werk 50(1):101–114.

Erlank, EC. 2002. Die substansafhanklike geneesheer: ’n maatskaplikewerk-perspektief. Pretoria: University of Pretoria.

Grobler, H, Schenck, R and Mbedzi, P. 2013. Person-centred facilitation: process, theory and practice. Cape Town: Oxford University Press.

Rogers, CR. 1987. Client-centred therapy: its current practice, implications and theory. London: Constable.

Schultz. P 2016. In Schenck, R, Mbedzi, P, Qalinge, L, Schultz, P, Sekudu & Seseko, M. 2016. Introduction to social work in the South African context. Oxford University Press: Cape Town.

Solidariteit Helpende Hand (SHH). 2016. Maatskaplike Hulp-handleiding. Helpende Hand: Pretoria.

Share This