Deur Reon Janse van Rensburg

Werk, lewe, balans. Die meeste van ons het die gesegde al gehoor en besef die waarde daarvan dat alles in balans moet plaasvind, maar baie van ons sukkel steeds om af te skakel – selfs wanneer ons met vakansie is.

Dit is egter van kardinale belang om af te skakel – en om dit self te doen voor jy gedwing word om dit te doen omdat jy nie meer in staat is om optimaal te funksioneer nie. Een ding is wel seker en dit is dat dit makliker gesê word as om dit werklik te doen.

In die tyd waarin ons leef waar alles byna teen die spoed van lig plaasvind en ons onmiddellike toegang het tot byna elke deel van ons werk deur die gebruik van moderne tegnologie soos slimfone, raak dit by die dag moeiliker om werklik af te skakel. Om die waarheid te sê, min mense weet waarskynlik wat dit beteken om werklik af te skakel.

Hoe skakel mens dan regtig af in hierdie tyd waarin ons leef waar alles elke dag vinniger gebeur en alles groter word en jy steeds jou gesonde verstand wil behou?

Selfs die sterkstes het hul limiet

Al wil jy hóé graag Superman wees, gaan jy later agterkom dat jy wel jou limiete het. Daar gaan nooit genoeg ure in ʼn dag wees nie en dit is onmoontlik om elke liewe dag soos Superman te werk te gaan. Aanvaar dat daar niks daarmee fout is om soms jou goed op te pak en môre weer te probeer nie. Jou prestasie hoef ook nie elke dag op die hoogste standaarde gemeet te word nie – jy mag so nou en dan ʼn dag beleef waar jou standaard van werk bietjie anders lyk as ander dae. Moenie skuldig voel dat jy maar ook net mens is nie.

Kry oefening – nee, jy hoef nie die Comrades te gaan hardloop nie

Baie van ons assosieer oefening met ʼn erge oefensessie waar ons byna nie meer ons bene kan lig of behoorlik kan asemhaal nie. Dit hoef egter nie so straf te wees nie. ʼn Stappie om ʼn paar blokke in jou buurt teen ʼn redelike pas sal jou net so goed doen. Dit hoef ook nie baie van jou tyd te neem nie. Selfs 30 minute per dag sal reeds ʼn groot verskil maak en nie net sal dit gesond wees nie, maar dit doen ook vir jou gemoed wondere. (Vat jou man of vrou saam – dit gee jou sommer tyd om lekker te gesels of om net in stilte saam te wees.)

Kry vir jou ʼn inkleurboek

Jy het reg gelees. Inkleurboeke is nie slegs vir kleuters bedoel nie. Daar is deesdae ʼn groot verskeidenheid, selfs dié wat vir volwassenes ontwerp is. Om in te kleur het ongelooflike meditatiewe kwaliteite en help jou ook om kreatief te bly. Probeer dit voor jy dit afskiet. Terloops – het jy al ʼn ongelukkige kleuter sien inkleur?

Bêre jou slimfoon – Ja, regtig

Sosiale media het ons lewens oorgeneem. Vra jouself daarom wat jy presies nodig het om op Facebook en ander platforms te sien? Verwyder sommer ook jou werk se e-pos van jou foon – nie omdat daar iets daarmee fout is nie, maar omdat jy gedurig met inligting oorlaai word. Dit is ook ʼn goeie idee om jou foon in ʼn ander vertrek te laai omdat ons veels te veel tyd voor ons gaan slaap op hierdie skerm bestee en dit later selfs ons slaappatroon beïnvloed. As iemand jou regtig soek, kan hulle jou bel of wag tot môre.

Doen iets wat jy geniet

Kom ons wees nou eerlik. Om ʼn stokperdjie te beoefen neem dikwels baie van mens se tyd in beslag. Die gholfstokke wat in jou motorhuis staan en stof vergaar of daai bergfiets wat jy ten duurste aangeskaf het, se ketting het meer stof as olie op. Baie mense het so bietjie ekstra hulp nodig om af te skakel. Dit hoef nie oefening te behels nie. Jy kan in die tuin rondkrap en jou eie groentetuin begin. Daar is so baie dinge wat jy kan doen, maar die belangrikste is om iets te kies waarvan jy regtig hou. Dit moet iets wees waarna jy uitsien en jou ʼn rede gee om die werk te wil verlaat in die middae sodat jy kan gaan doen waarvan jy hou. Die idee is juis om af te skakel en dit te geniet.

Kry genoeg slaap en probeer om in ʼn roetine te kom

As ouers probeer ons altyd dat ons kinders teen ʼn sekere tyd in die bed kom sodat hulle die volgende dag behoorlik kan aanpak. Waarom doen ons dit nie dan ook vir onsself nie? Slaap is nie net nodig nie, maar ʼn goeie nagrus is presies wat jy nodig het. Onthou om jou selfoon in ʼn ander vertrek te los, anders gaan jy nooit leer hoe om af te skakel nie.

Gesels met jou ander helfte

Ons dink altyd daaraan dat terapie geld kos en dat ons dit kan benut slegs wanneer ons na ʼn spesialis gaan. Die waarheid is egter dat ons baie van ons daaglikse gebeure kan verwerk wanneer ons met die mense wat die naaste aan ons is gesels. Maak daagliks tyd vir mekaar en gesels oor enigiets. Skakel die televisie af, gaan sit op die stoep en gesels soos toe julle nog jonk was en mekaar nog leer ken het. Nie net gaan jy agterkom dat jy makliker van jou dag vergeet nie, maar jy doen ook iets wat ʼn ongelooflik positiewe uitkoms in julle huwelik sal hê.

Raak verveeld – die beste vir laaste

Die grootste uitdaging vandag is dat ons nie meer weet hoe om net niks te doen nie. Ons is die heeltyd besig om aan die volgende opwinding te werk en dit hou nooit op nie. Het ons dan vergeet wat dit behels om verveeld te wees? Soms is dit goed as ons niks het om te doen nie of nêrens kan gaan nie. Ons word oorstimuleer en die wêreld waarin ons leef, skep heeltyd verwagtinge dat ons gedurig besig moet wees om aan onsself of aan iets rondom ons te werk. Dit is nie altyd nodig nie. Verbeel jou jy is weer op jou ouma en oupa se plaas in die Karoo en daar is niks om te doen nie – jy kan dalk hieraan gewoond raak.

 

Bronne:

10 Ways To REALLY Switch Off – https://www.marieclaire.co.uk/life/work/10-ways-to-switch-off-125308

How to completely switch off from work and relax – https://www.creativeboom.com/tips/how-to-completely-switch-off-from-work-and-relax/