Deur: Dr. Van den Heever

Tydens die gruwelike inperkingsperiode is ek genoop om agter slot en grendel met my vrou, 10-jarige dogtertjie, 8-jarige seuntjie en 4-jarige woelwater dogtertjie deur te bring. Ek het niks om oor te kla nie; ons is almal lief vir mekaar. Die eerste paar weke het almal op sosiale media vertel hoe oulik almal saam kos maak, bordspeletjies speel, legkaart bou, oefen en tuinmaak. Ons het dit ook probeer. Let wel, probeer. Soms het dit gewerk as daar dalk ’n vergunninkie ter sprake was, maar soms glad nie.

Ek het per toeval voor die inperking my selfoonkontrak opgradeer en het vir ’n skamele R100 ekstra 3 fone bygekry. Ek het gedink dit is dalk ’n slim plan om die kinders opvoedkundig te help met fone.  Daar is mos oulike goed vir kinders aanlyn. Week “duisend” van die inperking het aangebreek en ons hare staan woes, ons huiswerk raak agter, die gemoedere loop hoog, maar my kinders is eksperts met Minecraft en het selfs PubG bemeester. Ek voel soos ’n slegte pa, maar mens het hulle soms laat begaan. Dankie tog vir YouTube Kids, want daar kan hulle soms ook vermakerige en opvoedkundige dingetjies kyk so tussen die gedwonge skool- en huiswerk deur.

Ewe skielik praat my seuntjie van mense asof ek hulle moet ken. “Pa moet sien, Prestonplayz, né…”  “Pa moet sien wat doen Unspeakable” en “Brianaplayz het vir PrestonPlays gedare.”  Ek is stomgeslaan en vra hom wie die mense is, en dan antwoord hy baie selfvoldaan: “YouTubers.”

Mense, dit is beroepe wat ons nie geweet het kan bestaan nie. Sis v Bro is ’n boetie en sussie op YouTube Kids. Hulle het nou die dag ’n video gemaak van hoe jy maklik ’n winkel in jou huis kan opstel. Dié video is 8,2 miljoen keer gekyk. Hulle het voorheen mense op ’n toer deur hulle huis gevat en dít het oor die 7 miljoen kyke gekry. Die advertensiemaatskappye betaal baie geld om op sulke platforms te adverteer.

“85% van poste wat in 2030 beklee gaan word, is nog nie ontdek nie.” 

Ek beheer my kinders se skermtyd, maar as hulle kans kry dan kyk hulle na die “YouTubers” tot hulle grootste genot.  En daar lê goud daarin as jou kind sê dat hy daarvan sal hou om eendag ’n “YouTuber” te wees. Ek hoor al mense wat afgaan en sê dit is nonsens. Binne hierdie nuwe realiteit van sosiale media en die vierde nywerheidsrewolusie word ’n generasie gebore en getoë om anders te dink en anders om te gaan met die wêreld. Ek sê nie ons moet hulle neuse daarin druk en hulle weghou van modderkoekies en karretjies speel nie, maar moet nooit hulle generasie se toekoms onderskat nie.

Eendag as die een kind ’n “YouTuber” is en jou kind kan modderkoekies bak, dan gesels ons weer.  Terloops, my kinders doen beide sodat ons ’n gesonde balans handhaaf, en dan geniet hulle ook die beste van beide wêrelde.

Ons moet die krag van sosiale media in die vierde nywerheidsrewolusie nie onderskat nie. Dit het tydens die inperking mense nader aanmekaar gebring, dit het verbruikers by produsente gebring, dit het kinders tot onderrig gebring, dit het werknemers by ’n ander werknemer uitgebring. En dit gaan nie in die toekoms baie gou verander nie.

Gaan voort in die wêreld my kinders. Gaan bemeester die tegnologie met ’n gesonde balans, want as pappa jou terughou, gaan die wêreld van werk dalk nie weer sy deure vir jou oopmaak nie.