Substansafhanklikheid begin aanvanklik met ʼn positiewe ervaring

In die volgende paar weke sal die S-Leer-span aandag gee aan ʼn verskynsel wat die geestesgesondheid asook fisieke welstand van individue, gesinne, organisasies en die gemeenskap negatief raak. Substansmisbruik en -afhanklikheid is ʼn internasionale en plaaslike risiko vir menslike welstand.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie beskryf substansmisbruik en -afhanklikheid as ʼn internasionale verskynsel. Miljoene lewens word geraak deur die onwettige handel in dwelms in ontwikkelende en ontwikkelde lande, met die grootste negatiewe impak op weerlose gemeenskappe (CDA 2017; WHO: 2010). Alkohol- en dwelmmisbruik het ʼn negatiewe impak op die gebruiker, gesinsisteem asook die gemeenskap en het veral lewensgevaarlike nagevolge vir die jeug (CDA 2017; WHO: 2010).

In Suid-Afrika is die Nasionale Dwelm Meesterplan (2013-2017) op 26 June 2013 deur die kabinet goedgekeur en die Sentrale Dwelmowerheid is in die lewe geroep. Die strukture is geskep om alkohol- en substansmisbruik in die land te takel. Verder word daar ook klem gelê op voorkoming, vroeë intervensie, behandeling, nasorg en herintegrering van gerehabiliteerde persone (CDA 2017).

Volgens die Sentrale Dwelmowerheid is alkohol, dagga, kokaïen, heroïen en amfetamien (Ecstacy, crystal meth, cat en tik) die dwelms wat die meeste gebruik word. Wat by die groep ingesluit kan word, is oor-die-toonbank- asook voorskrifmedikasie. Vlugtige middels wat ingeasem word, blyk ook ʼn wesenlike probleem onder jeugdiges te wees (CDA 2017:167-168).

Die negatiewe impak van chemiese substansmisbruik en -afhanklikheid laat ʼn mens wonder waarom ʼn persoon sal aanhou om skade aan die fisieke, sielkundige en sosiale self aan te rig. Die wyse waarop die proses van afhanklikheid begin, gebeur stelselmatig deur fases (Visser in Erlank 2002:61-62). Mense keer terug na aangename ervaringe en probeer om so ver as moontlik van fisieke of emosionele pyn te vlug. Die euforiese effek van hierdie middels is die eerste ervaring waar ʼn persoon leer dat die gebruik van hierdie middels, en later die misbruik daarvan, pyn verlig (Erlank 2002:61-62).

ʼn Persoon mag dalk ervaar dat ander en die eie self meer aanvaarbaar word wanneer hierdie middels gebruik word. Dit kan ook gebeur dat die persoon meer gemaklik in sosiale interaksie is, meer energie het of selfs dat onderliggende simptome van angs of depressie verlig word (Mudavanhu & Schenck 2014; Zastrow 2004). Gedagtes wat verband hou met onaangename ervaringe en onderliggende emosionele ongemak kan tydelik “behandel” of verlig word. Hierdie middels het dus ʼn effek op die persoon se interne en eksterne ervaringswêreld; aanvanklik speel dié middels ʼn positiewe rol in die persoon se lewe (Botes & Schenck 2015).

ʼn Mens leer dus op ʼn bewuste en onbewuste vlak dat hierdie middels ʼn positiewe funksie verrig. Substansgebruik kan dus onderliggende sielkundige en interpersoonlike komplikasies verbloem of verlig, maar na langdurige gebruik kan dit tot afhanklikheid lei (Barlow & Durand 2005). Wat ook al die geval mag wees, die aanvanklike ervaringe wat met substansgebruik verband hou, is vir die gebruiker daarvan ʼn positiewe ervaring. Die positiewe effek is dus interpersoonlik en intra-persoonlik en persone keer dus terug na die gebruik van die substans van hul keuse. Wanneer gebruik egter later in misbruik en dan in substansafhanklikheid verander, raak die verhouding nadelig vir die persoon (Visser in Erlank 2002:61-62).

Daar moet begryp word dat hoewel ʼn persoon se afhanklikheid van chemiese middels oor ʼn tydperk ontwikkel, hierdie middels reeds in die misbruikfase ʼn nadelige uitwerking op die persoon se fisieke, sielkundige en sosiale welstand het. In die volgende aflewering verskaf S-Leer meer inligting oor die sielkundige implikasies van substansafhanklikheid en -misbruik.

Bronne:

Barlow, DH. and Durand, VM. 2005. Abnormal psychology: An integrative approach. London: Thomson Wadsworth.

Botes, J & Schenck, C. 2015. “If a person uses alcohol the real you comes out”: Exploring the self, sexual experiences and substance abuse. Social Work/Maatskaplike Werk 50(1):101–114.

Central Drug Authority (CDA). 2017. National Drug Master Plan 2013-2017. Department of Social Development. South Africa: Pretoria.

Erlank, EC. 2002. Die substansafhanklike geneesheer: ’n maatskaplikewerk-perspektief. Pretoria: University of Pretoria. (Unpublished doctoral thesis).

Mudavanhu, N and Schenck, CJ. 2014. Substance abuse amongst the youth in Grabouw, Western Cape: Voices from the community. Social Work/Maatskaplike Werk 50(3):370-391.

World Health Organisation. 2010. http://www.who.int/substance_abuse/facts/en/index.html (access gained 15 February 2011).

Zastrow, C. 2004. Introduction to social work and social welfare: Empowering people. Belmont CA: Brooks/Cole.

Share This