Substansmisbruik en -afhanklikheid: ’n Onproduktiewe effek op die senuweestelsel.

S-Leer kyk die volgende paar weke na substansmisbruik en -afhanklikheid om sodoende ’n bydrae te lewer tot ’n meer ingeligte gemeenskap. Om ’n bydrae te lewer tot professionele persone se ontwikkeling, bied S-Leer ’n VPO- (CPD) werkswinkel op 23 Augustus 2017 aan waartydens substansmisbruik en -afhanklikheid deur kenners bespreek sal word. Kennis en ontwikkeling is vir die span van S-Leer baie belangrik, want daardeur word gepoog om ’n positiewe bydrae tot die welstand van individue, gesinne, organisasies en die gemeenskap te lewer.

Substanse wat misbruik word, strek oor ’n wye spektrum middels van onwettige dwelms, alkohol, nikotien, oor-die-toonbank- en voorskrifmedikasie en kan, soos medikasie, mondelings geneem of ingespuit word, asook gesnuif of gerook word (CDA 2017:18; Kirst-Ashman 2013:443; Schultz 2016:184-187). ’n Chemiese substans verander die gebruiker se vlak van bewustheid en die substanse kan gebruik en ook misbruik word. Substanse het ’n onderdrukkende of stimulerende effek op die senuweestelsel en kan ook hallusinasies tot gevolg hê (Schultz 2016:184-187; SHH 2016:27-33).

Sentrale senuweedepressante sluit alkohol, dagga, barbiturate, bensodiazipine en opiate in. Dié middels kan angs, fisieke en selfs emosionele pyn onderdruk. Sentrale senuweestimulante soos amfetamien, kokaïen, nikotien en selfs kafeïen gee ʼn gevoel van  opgewektheid wat selfs hallusinasies en euforie tot gevolg kan hê. Hallusinogene middels verwring die gebruiker se persepsie van realiteit en sensoriese waarneming; die persoon hallusineer dus. Dié middels sluit “magic mushrooms”, LSD, PCP, Ecstacy en selfs dagga in (Botes & Schenck 2015; Schultz 2016:183; SHH 2016:27-33). Die middels kan in kombinasie met mekaar gebruik word om ’n bepaalde effek op die senuweestelsel te lewer. Persone eksperimenteer dus met kombinasies van dwelms afhangende van die gebruiker se behoefte aan ’n spesifieke effek (CDA 2017:39).

Dwelm- of substansmisbruik kan beskryf word as die gereelde, langdurige en oormatige gebruik van die substans, en die gebruik daarvan word nie volgens mediese voorskrif of praktyk ondersteun nie (CDA 2017:17). Misbruik word gekenmerk deur die abnormale gebruik van die substans wat gereelde negatiewe uitkomste op die persoon se psigososiale en fisieke welstand het. Substansafhanklikheid beteken die persoon kan nie meer funksioneer sonder om die substans te gebruik nie en die afhanklikheid kan fisiek, sielkundig of beide van aard wees (CDA 2017:17). Afhanklikheid het ʼn negatiewe uitwerking op die persoon se gedrag, denkprosesse, gemoedstoestand, gesondheid, gesinslewe en produktiwiteit. Ten spyte van negatiewe uitkomste kan die persoon nie die substansgebruik staak of beheer nie (CDA 2017:17; Kirst-Ashman 2013:442–443; Schultz 2016:184-187; SHH 2016:27-33). Die substansgebruiker speel dus ’n baie gevaarlike chemiese dobbelspel met die brein – indien afhanklikheid nie behandel word nie, kan skade aan die senuweestelsel permanent wees en ernstige gesondheidsimplikasies tot gevolg hê (Smith in Botes & Schenk 2015).

ʼn Persoon se geestesgesondheid is ’n risikofaktor wanneer dit by substansgebruik en -misbruik kom, want die persoon mag moontlik ’n onderliggende sielkundige toestand “self-medikeer” of ’n psigiatriese diagnose mag ook ’n gevolg van substansmisbruik wees (SHH 2016:27-33; Sue, Sue & Sue in Botes & Schenck 2015). Geestesgesondprobleme wat sterk met substansmisbruik verband hou is: depressiewe en bipolêre gemoedsversteurings, grenslynpersoonlikheidsversteurings, angs, paniek en obsessiewe kompulsiewe versteurings, eetversteurings en skisofrenie (Sue et al in Botes & Schenk 2015).

Substansmisbruik en -afhanklikheid het ’n direkte uitwerking op die persoon se senuweestelsel, gedrag en funksionering, wat uiteindelik ’n mediese diagnose tot gevolg het. Indien geen behandeling onvang word nie, kan die gevolge fataal wees. S-Leer sal in die volgende artikels aandag gee aan die proses van afhanklikheid vanuit ’n siektemodelperspektief asook behandelingsopsies wat beskikbaar is.

Bronne

Botes, J & Schenck, C. 2015. “If a person uses alcohol the real you comes out”: Exploring the self, sexual experiences and substance abuse. Social Work/Maatskaplike Werk 50(1):101–114.

Central Drug Authority (CDA). 2017. National Drug Master Plan 2013-2017. Department of Social Development. South Africa: Pretoria.

Kirst-Ashman, KK. 2013. Introduction to social work and social welfare: Critical thinking perspectives. Pacific Grove, CA: Brooks/Cole.

Schultz. P 2016. In Schenck, R, Mbedzi, P, Qalinge, L, Schultz, P, Sekudu & Seseko, M. 2016. Introduction to social work in the South African context. Oxford University Press: Cape Town.

Solidariteit Helpende Hand (SHH). 2016. Maatskaplike hulp handleiding. Helpende Hand: Pretoria.

Share This