Substansmisbruik en -afhanklikheid: wetlike regulering van behandelingsopsies

Substansafhanklikheid ontwikkel oor ʼn tydperk volgens bepaalde fases. Chemiese substanse het reeds in die misbruikfase ʼn nadelige uitwerking op ʼn geaffekteerde persoon se fisieke, sielkundige en sosiale welstand. Substansmisbruik en -afhanklikheid het ’n direkte uitwerking op sy/haar senustelsel, gedrag, funksionering en gesinsisteem. Sonder behandeling kan die uiteinde fataal wees.

Daar bestaan vele opinies en onwetenskaplike benaderings tot rehabilitasie; ʼn mediese diagnose vereis egter mediese behandeling. Substansmisbruik en -afhanklikheid noodsaak multiprofessionele behandeling om die geaffekteerde persoon in die proses van genesing holisties te ondersteun.

Verder word intervensies om substansmisbruik en -afhanklikheid in Suid-Afrika te behandel deur wetgewing gereguleer. Die departemente van gesondheid en maatskaplike ontwikkeling is hoofsaaklik verantwoordelik vir die bestuur van behandelingsentrums en -programme. Die vernaamste regulerende wet is die Wet op Voorkoming en Behandeling van Substansmisbruik (No. 70 van 2008) (hieronder net “die Wet”).

Ten einde professionele persone se ontwikkeling te help bevorder, bied S-Leer ’n VPO- (CPD) werkswinkel op 23 Augustus 2017 aan waartydens substansmisbruik en -afhanklikheid deur kenners bespreek sal word.

In die Wet word onder meer Verantwoordelike standaarde vir die onderskeie gesondheidsorgberoepe neergelê Volgens die wetgewing is vroeë intervensie ʼn terapeutiese strategie wat die vroegtydige bespeuring van gevaarlike of skadelike substansgebruik en behandeling kombineer. Behandeling word verskaf voordat pasiënte vrywillig na vore kom of daarvan bewus raak dat hul substansgebruik problematies is. Vroeë intervensie is gerig op individue wat nie met fisieke afhanklikheid, ernstige psigososiale of psigiatriese komplikasies presenteer nie (CDA 2017:18).

ʼn Behandelingsentrum kan op enige van die volgende buitepasiëntdienste besluit:

  • dienste wat bestaan uit voorkomingsprogramme, met inbegrip van programme oor opvoeding, vaardigheidsontwikkeling, die deel van inligting en veldtogte
  • dienste wat bestaan uit vroeë intervensieprogramme
  • programme vir volwassenes en kinders wat uit die strafregstelsel weggekeer is
  • holistiese behandelingsdienste, waaronder gesinsprogramme, behandelingsdienste, terapeutiese intervensie, nasorg en herinskakeling

Die Wet maak ook voorsiening vir gemeenskapsgebaseerde dienste; dit word verskaf aan pasiënte sowel as die mense ná aan hulle soos gesinslede. Behandeling word verskaf terwyl pasiënte in hul gesinne en gemeenskappe bly woon. Buitepasiënte- of nie-inwonersdienste word deur sommige behandelingsentrums en halfweginrigtings verskaf.

Aangesien substansmisbruik en -afhanklikheid ʼn mens op vele vlakke (fisiek, psigiatries, geestelik en psigososiaal) raak, moet intervensies op verantwoordelike wyse deur professionele persone gelewer word. Geliefdes kan desperaat genoeg wees om enige vorm van hulp te aanvaar – en groot bedrae daarvoor te betaal. Dog nie alle rehabilitasiesentrums en “dwelmberaders” beskik noodwendig oor die nodige registrasie of voldoen aan die standaarde soos voorgeskryf nie. Kragtens die Wet mag slegs geakkrediteerde professionele persone behandelings-, rehabilitasie- en vaardigheidontwikkelingsdienste volgens duidelike minimum standaarde en vereistes lewer.

Rehabilitasiedienste word deur privaat of staatsinrigtings gelewer. Privaat behandelingsentrums moet vir die behandeling en rehabilitasie van pasiënte geregistreer wees. Die Wet bepaal dat geestesgesondheids- en rehabilitasiedienste slegs deur ʼn psigiater, algemene praktisyn, verpleegkundige, arbeidsterapeut, sielkundige of maatskaplike werker gelewer word. Die vereiste is egter dat die professionele persoon opgelei is om psigososiale, geestesgesondheidsorg- en rehabilitasiedienste te lewer.

Die eerste stap van professionele behandeling is om onttrekkingsimptome deur middel van mediese behandeling te bestuur. Die Wet bepaal dat die ontgiftigingsproses onder mediese toesig en met individueel voorgeskrewe medisyne plaasvind. Ontgiftigingsdienste word deur gemagtigde behandelingsentrums verskaf. Die rehabilitasieproses volg na deeglike ontgiftiging en die behandeling van enige ander problematiese simptome. Rehabilitasie word in die Wet omskryf as ʼn proses waardeur ʼn pasiënt in staat gestel word om weer optimale fisieke, sielkundige, intellektuele, geestes-, psigiatriese en sosiale vlakke te bereik en te handhaaf.

Die oogmerk met verantwoordelike rehabilitasie is om die gepaardgaande maatskaplike en gesondheidsgevolge suksesvol te behandel. Rehabilitasieprogramme wat op die pasiënt se holistiese behoeftes fokus, vereis spanwerk van professionele persone asook mensgesentreerde behoeftebepaling, duidelike probleemidentifisering en uitkomste-evaluering (Coulter, Roberts & Dixon 2013: 6,14). Behandeling sluit in die verskaffing van gespesialiseerde maatskaplike, psigiatriese, sielkundige en mediese dienste aan pasiënte en hul geliefdes.

Psigososiale programme, met die ondersteuning van biochemiese behandeling, is gerig op pasiënte se verhoudings, emosies, gevoelens, houdings, oortuigings, gedagtes en gedragspatrone. Intervensies poog om gesinne en gemeenskappe ook by ontwikkelingsprogramme betrokke te maak. ʼn Verdere doelwit is om gerehabiliteerde persone te help om weer by die samelewing in te skakel en dit sluit vaardigheidsontwikkeling in. Hier kan ʼn halfweghuisinrigting ʼn sleutelrol speel.

Die belangrikheid van ʼn multiprofessionele benadering tot rehabilitasie word beklemtoon, maar suksesvolle behandeling verg natuurlik ook die aktiewe deelname en motivering van die pasiënt. Rehabilitasieprogramme moet so ontwerp word dat die persoon aktief deelneem aan die proses van selfheropbou; individue moet bemagtig word dat hulle uiteindelik met selfvertroue weer hul eie besluite kan neem (Sternberg in Botes & Schenck 2015). Rehabilitasie moet ʼn persoon se selfbeskikking en sterkpunte uitlig om sy/haar volhoubare totale ontwikkeling as mens te verseker (Durrant & Kowalski in Botes & Schenk 2015; Mearns & Thorne 2013; Tolan 2012). Vaardige psigososiale intervensie moet ʼn pasiënt bemagtig om die realiteit van betekenisvolle verandering te ervaar, en dit word gefasiliteer deur toestande te skep wat groei en ontwikkeling bevorder (Mearns & Thorne 2013; Tolan 2012).

Ter wille van volhoubare herstel is professionele nasorg van die uiterste belang Die fokus van nasorg is om ʼn terugval te voorkom asook om selfstandigheid en sosiale funksionering te bevorder. Dit word op ʼn buitepasiëntgrondslag gedoen en kan ook gemeenskapsgebaseerd wees. Ofskoon ondersteuningsgroepe in hierdie fase belangrik is, is dit nie ʼn plaasvervanger vir professionele dienste nie. ʼn

Die Wet verskaf duidelike riglyne, standaarde en vereistes vir ʼn holistiese benadering van substansmisbruik en -afhanklikheid. Die wetgewer is ook ernstig oor die herinskakeling van pasiënte in die gemeenskap sodat individue, gesinne en gemeenskappe weer opgebou kan word.

Bronne

Botes, J & Schenck, C. 2015. “If a person uses alcohol the real you comes out”: exploring the self, sexual experiences and substance abuse. Social Work/Maatskaplike Werk 50(1):101–114.

Central Drug Authority (CDA). 2017. National Drug Master Plan 2013-2017. Department of Social Development. South Africa: Pretoria.

Coulter, A., Roberts, S. and Dixon, A. 2013. Delivering better services for people with long-term conditions, building the house of care (1–24). The Kings Fund. Cavendish Square: London.

Mearns, D. and Thorne, B. 2013. Person-centred counselling in action (3rd ed). London: Sage Publications.

Prevention of and Treatment for Substance Abuse Act 70 of 2008. South Africa. Department of Social Development. (Government Notice 436). Government Gazette 32150, 21 April 2009.

Tolan, J. 2012. Skills in person–centred counselling and psychotherapy. London: Sage Publications.

Share This