Deur Reon Janse van Rensburg

Die skrywer Hugh Nibley wys daarop  dat die “aangrypendste probleem van die moderne lewe waarskynlik die mens se gevoel is dat die lewe sy betekenis verloor het.”

Ons spandeer die grootste deel van ons dag by die werk. Hoewel ons besig is met take wat aan die bereiking van ʼn doel gekoppel kan word, is ons altyd besig om sukses na te jaag. Om dit te vermag werk ons hard, so hard dat ons soms vergeet waarom ons doen wat ons doen. Is dit bloot om suksesvol te wees of het ons werk ʼn dieper betekenis?

Die meeste van ons het ʼn begeerte om suksesvol te wees, al definieer ons sukses op baie verskillende maniere. Sommige van ons kyk hoeveel geld ons kan maak of dalk na watter impak ons op die mense om ons het, of na die status wat ons in die samelewing bereik.

Die samelewing waarin ons leef is besonder skerp gefokus op die bereiking van sukses, selfs tot so ʼn mate dat ons dikwels ons geluk definieer rondom die sukses wat ons behaal. Baie mense het so ʼn obsessie met die persepsie om suksesvol te wees en glo dat sukses ons regtig gelukkig as mense sal maak.

Sukses kan egter verskillende dinge vir verskillende mense beteken:

“As ek bevordering kry, sal ek gelukkig wees.”

“As ek daarin slaag om hierdie kontrak te kry, sal ek gelukkig wees.”

Dit klink dalk bekend. Die vraag is egter of sukses jou werklik gelukkig gaan maak en of dit nie bloot ʼn vals denkwyse is nie. Word geluk werklik deur sukses gedryf?

Volgens welldoing.org is ons konstant besig om ons sukses te meet en hoe meer suksesvol ons word, hoe hoër word die maatstaf vir ons definisie van sukses gestel, wat dit weer moeiliker maak om sukses te behaal.

As ons ons geluk vestig op die vraag of ons vanuit ʼn loopbaanperspektief suksesvol is, koppel ons dalk ons gevoel van voorspoed aan omstandighede wat wispelturig kan wees, en om ons geluk aan ʼn vals en subjektiewe definisie van loopbaansukses te koppel, kan en het al tot heelwat ongelukkige en ontevrede mense aanleiding gegee. Alhoewel geluk en sukses verwant is, is hulle nie eenders nie.

Wanneer ons egter té veel op ons loopbaan en beroep fokus, selfs al vind ons dit is betekenisvol, kan dit ons van ons vervulling en geluk beroof. Die antwoord lê dus daarin om balans tussen die onderskeie sfere van jou lewe te kry.

Wanneer mense werklik in hulself gelukkig is, is dit vir hulle makliker om vervulling uit hul werk te kry. Daar is dikwels intrinsieke tevredenheid verbonde aan ʼn werk of taak wat goed gedoen is. Ons ongebalanseerde pogings en fokus op ons loopbane kan egter ons vermoë benadeel om bevrediging en tevredenheid te vind op ander gebiede in ons lewe wat net soveel aandag behoort te geniet as wat ons aan ons werk wy. Ons het ons gesinne wat aandag verg en wie se aandag ons ook geniet. Daar is byvoorbeeld ook ons geloof en verhouding met God en ons persoonlike ontwikkeling, om enkele ander voorbeelde te noem wat ook belangrik is.

Om suksesvol te wees hoef nie noodwendig te beteken dat ons die korporatiewe leer moet klim en dat die boonste sport geluk sal bring nie. Sukses kan beteken dat jy dalk ʼn werk het wat genoeg betaal om jou koskas vol te hou en genoeg te hê om ook aan ander wat minder as jy het te kan gee.

Dit is dalk nodig dat ons as ʼn samelewing herevalueer wat sukses beteken sodat ons minder op ons eie behoeftes ingestel is en meer tyd daaraan bestee om dit wat om ons gebeur te kan waarneem. Hoewel dit belangrik is om toegewyd aan jou loopbaan te werk, is dit ook belangrik om na jou gemeenskap (en ook na jouself) om te sien om die balans te vind. Sukses in ons loopbaan moet slegs ʼn klein deel van ons algehele geluk wees, juis omdat ʼn mens veel meer is as net die beroep wat jy volg.

Daar is soveel geraas in ons lewe dat dit amper onmoontlik geword het om werklik stil te word. Moet alles groter, sterker, vinniger ens. word voordat ons gaan besef dat dit ons nie werklik gelukkig gaan maak nie? Sukses, afhangend van wat dit vir jou beteken, is nie alles nie.

 

Bronne:

Why Success Isn’t Everything – https://welldoing.org/article/why-success-isnt-everything

Your Career Isn’t Everything – Here’s Why – https://www.linkedin.com/pulse/your-career-isnt-everything-heres-why-adam-c-zern/