Supervisie in sosiale wetenskappe

Inleiding

S-Leer, in samewerking met AfriForum se trauma- en ondersoekeenheid is in die proses om studiemateriaal vir ʼn slagofferbemagtigingsprogram te ontwikkel. Die oogmerk is om vrywilligers op te lei om basiese ondersteuning aan slagoffers van misdaad en geweld te lewer. Aangesien streng beleid daargestel word om op verantwoordelike wyse met mense se lewens om te gaan, is die beplanning dat vrywilligers onder supervisie van professionele persone sal werk. In die artikel word supervisie kortliks bespreek.

Verantwoordelike en toerekenbare praktyk is uiters belangrik in die sosiale wetenskappe, en wisselwerking tussen mense word deur etiese beginsels gelei. Daar bestaan talle definisies vir supervisie, maar dit kan kortliks beskryf word as ʼn werksverhouding tussen die supervisor en ʼn persoon onder toesig (supervisiepersoon). In die verhouding tussen ʼn ervare persoon (supervisor) en ʼn onervare persoon (supervisiepersoon) verskaf die supervisor die konteks en leiding vir vaardighede en kennisontwikkeling wat etiese en professionele dienslewering ten doel het (Schultz 2016:37). Tydens die supervisieproses word die verantwoordelikheid en toerekenbaarheid vir die ontwikkeling van bedrewenheid en etiese praktyk verdeel tussen die supervisor en die supervisiepersoon (NASW 2013:6).

Supervisie is ʼn deelnemende proses waarin die supervisor en die persoon onder toesig betrokke raak by ʼn reeks spesifiek gekose aktiwiteite om etiese en verantwoordelike dienslewering te vestig (Schultz 2016:37). Administratiewe, opvoedkundige en ondersteunende funksies is ingebed in die supervisieverhouding (NASW 2013:7,8; Schultz 2016:37; Suraj-Narayan 2010:191-193).

Supervisie as ontwikkelingsproses

Die proses van opvoeding, opleiding en ontwikkeling van persone onder supervisie moet voldoen aan die etiese gedragskode wat op die supervisor van toepassing is. Professionele persone is geregistreer by ʼn statutêre liggaam soos kragtens wetgewing bepaal. Die supervisiepersoon, in die geval van maatskaplike werkers, moet onder die toesig wees van ʼn supervisor wat as maatskaplike werker geregistreer is (Etiese Kode SACSSP 2017:38). Maatskaplike werkers wat supervisiedienste verskaf, moet die prestasie van persone onder toesig op ʼn billike, regverdige en etiese wyse evalueer (Etiese Kode SACSSP 2017:37,38). Supervisie moet plaasvind in ʼn omgewing met duidelike en toepaslike grense (Etiese Kode SACSSP 2017:37).

Indien supervisie as dissiplinêre handeling vereis word, moet ʼn ooreenkoms tussen die supervisor, die supervisiepersoon en agentskap opgestel word. Die oogmerk met so ʼn ooreenkoms is om remediërende sake tydens supervisie uiteen te sit en ook om die reëlmatigheid van supervisiesessies en die openbaarmaking van inligting tussen die partye te verduidelik (NASW 2013:19). Indien konflik opduik, mag toesighouers met kundiges oorleg pleeg vir advies en hersiening (NASW 2013:19).

Risikobestuur

Supervisie het betrekking op die verantwoordelike leiding en opleiding van die supervisiepersoon in dienslewering asook die ontwikkeling van professionele etiek en bedrewenheid (Schultz 2016:37). Supervisie moet in ʼn omgewing met duidelike en toepaslike grense plaasvind (Etiese Kode SACSSP 2017:37). Supervisors moet risiko’s bestuur deur die volgende in gedagte te hou (NASW 2013:17):

· Dienslewering deur supervisiepersone moet praktykstandaarde nakom of oorskry;

· Instandhouding van dokumentasie oor supervisie, evaluering en monitering van supervisiepersoon se praktyk;

· Identifisering van praktyke of intervensies wat ʼn risiko vir kliëntestelsels se gesondheid en welsyn inhou;

· Inisiëring van geskikte en stiptelike leersame en remediërende prosedures wanneer enige toestand geïdentifiseer word wat doeltreffende dienslewering in die wiele kan ry; en

· Leersame en remediërende aksies moet verseker dat dienste professioneel, vaardig, oordeelkundig, noukeurig en verantwoordelik verskaf word.

Die supervisiepersoon se behoeftes kan volgens konteks wissel. Risiko’s sal dus nie universeel wees nie en moet vanuit ʼn teoreties ingeligte benadering geïdentifiseer en bestuur word. Praktisyns moet daarna streef om mensewaarde te bevestig en om die fundamentele menseregte van kliëntestelsels en van hulself te beskerm, soos dit beskryf is in die Suid-Afrikaanse Grondwet en die Handves van Regte (Etiese Kode SACSSP 2017:9). Vaardige dienste onder etiese toesig is derhalwe noodsaaklik om die verantwoordelikheid vir die beskerming van die beroep, kliënte, ander professionele persone, praktykomgewings en die breë publiek te handhaaf (Etiese Kode SACSSP 2017:3; NASW 2013:5).

Domeine van supervisie

Die professionele supervisieverhouding is gebou op vertroulikheid, ondersteuning, empatiese ervarings en vertroue; ander eienskappe sluit in sake soos selfversorging, respek, konstruktiewe terugvoer en veiligheid (NASW 2013:7). Supervisors moet seker maak dat persone onder toesig progressiewe kennis, vaardighede en vermoëns verwerf wat op ʼn etiese en bekwame wyse toegepas kan word. Die drie primêre supervisiedomeine is administratief, opvoedkundig en ondersteunend (NASW 2013:7; Schultz 2016:37,38; Suraj-Narayan 2010:191-193).

Toesig oor administrasie

Administratiewe supervisie is gerig op die handhawing van agentskapsbeleid, wetgewing en praktyk-etiek ten opsigte van die funksioneringsvlak van die supervisiepersoon (NASW 2013:7,8). Supervisors hou toesig oor administratiewe prosesse om die ontwikkeling van persone onder toesig te bevorder sodat hulle verantwoordelikheid kan aanvaar vir die administrasie en bestuur van hul verantwoordelikhede (Schultz 2016:37).

Supervisors is verder behulpsaam met die ontwikkeling van verantwoordelike administratiewe praktyke en die voldoening aan beleid, wetgewing en etiese kodes. Hierbenewens kommunikeer en skakel supervisors met ander belanghebbers asook met privaat en staatsentiteite op alle vlakke.

Opvoedkundige funksie

Opvoedkundige supervisie sal fokus op bepaalde werksverwante scenario’s, professionele belange en die toepassing van teorie op spesifieke gevallestudies. Begrip van teorie, opvatting en vaardighede word ontwikkel terwyl supervisiepersone verhoogde selfbewussyn verwerf en hul praktyk-spesifieke vaardighede verbeter (Schultz 2016:37). Supervisiepersone moet bemagtig word ten opsigte van die identifisering en oplossing van etiese dilemmas asook assessering, evaluering, praktykbestek en diensbeëindiging (NASW 2013:8).

Buiten dat onderrig ʼn wesenlike deel van supervisie uitmaak, is dit ook ʼn funksie van die supervisor om ʼn voorbeeld van professionele en etiese gedrag vir supervisiepersone te wees

(NASW 2013:14). Professionele ontwikkeling gaan gepaard met persoonlike bewustheid en groei tydens een-tot-een- en kleingroep- supervisiesessies (Schultz 2016:37). Ontwikkeling word verder versterk deur bykomende opleidingsessies, die bywoon van opleidingsprogramme en gereelde prestasiebeoordelings (Schultz 2016:37).

Ondersteunende supervisie

Supervisie verskaf die klimaat en omgewing vir groei wat supervisiepersone se prestasies erken en hul eie potensiaal na vore bring. Ondersteunende supervisie word uitgelig deur ʼn omgewing van veiligheid en vertroue waarin supervisiepersone hul professionele identiteit kan ontwikkel (NASW 2013:8). Supervisors kan supervisiepersone help om doeltreffende vaardighede ten opsigte van kommunikasie, stresbestuur en probleemoplossing te kweek (Schultz 2016:37).

Dit is belangrik dat supervisors oplet na tekens van werkverwante stres by persone onder hul toesig; laasgenoemde moet ingelig word oor die identifisering van werkverwante stressimptome. Indien supervisiepersone emosionele beroering of psigologiese ongemak ervaar, word dit van supervisors verwag om hulle volgens behoefte na verantwoordelike eksterne spesialiste te verwys. In sulke gevalle kan selfrefleksiewe praktyk en portuurkonsultasie voordelig wees vir supervisors en supervisiepersone; die etiese beginsels van “moenie leed aandoen nie” en “doen slegs die goeie” moet egter ook nagestreef word (NASW 2013:15).

In kombinasie sal opvoedkundige, administratiewe en ondersteunende supervisie die ontwikkeling van professionele en etiese praktisyns versterk en aanvul (NASW 2013:8). Supervisors moet enige misverstand wat supervisiepersone vanweë etiese dilemmas ervaar, aanspreek en uit die weg ruim.

Etiese kwessies

Beide supervisors en persone onder toesig kan tydens diensverskaffing met etiese dilemmas gekonfronteer word. Primum non nocere is die Latynse frase vir “Moet eerstens nie leed aandoen nie”. Indien die algehele universele etiese beginsel hiervan noukeurig ontleed word, dan moet slegs “die goeie” hierbo praktisyns se bydrae tot die globale gemeenskappe wees (De Vos, Strydom, Fouché & Delport 2011:113; Monette, Sullivan & De Jong 2008:61). Supervisors en supervisiepersone se interaksie met mekaar en met kliëntestelsels moet deur professionele en universele etiek gelei word. Etiese kwessies word nie altyd so duidelik soos beleid en wetgewing uiteengesit nie; etiese dilemmas kan dus opduik. Praktisyns moet dan ruimte laat vir die etiese kode van hul dissipline, professionele en literatuurkonsultasie om hulle te lei om ʼn oplossing vir etiese dilemmas te vind.

Grondige kennis van die kode van praktyk-etiek sal help om etiese dilemmas die hoof te bied (Etiese Kode SACSSP 2017). Die Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplike Diensberoepe se Beleid, Riglyne vir Gedrag, Etiese Kode en die Reëls vir Maatskaplike Werkers sal supervisors en supervisiepersone help om hierdie etiese dilemmas die hoof te bied (Etiese Kode SACSSP 2017). Hierbenewens moet die volgende riglyne uit die NASW se Etiese Kode ook oorweeg word (2013:19,20):

· Supervisors moet oor die nodige kennis en vaardigheid beskik om op paslike wyse toesig te hou op die terrein van hul kennis en bedrewenheid.

· Supervisors is verantwoordelik vir die vasstelling van duidelike, toepaslike en kultuur sensitiewe grense.

· Supervisors kan nie betrokke raak in veelvuldige of paarsgewyse verhoudings met persone onder toesig nie.

· Die supervisieverhouding moet nie enige risiko inhou van moontlike mishandeling of uitbuiting van of leed jeens die supervisiepersoon nie.

· Supervisors moet die supervisiepersoon se prestasie by wyse van taktvolle en billike ontwikkelingsprosesse evalueer.

Die supervisieverhouding dien as opleidingsveld vir assessering, ontleding, evaluering, etiese diskresie en besluitneming (NASW 2013:20). Die Wet op Maatskaplike Diensberoepe (No. 110 van 1978, soos gewysig) verbind maatskaplike werkers as supervisors “om die waardigheid en integriteit van die beroepe wat binne die bestek van die professionele raad val”, te handhaaf en uit te bou, en verder om praktisyns te lei om die publiek te beskerm en verantwoordelike praktyk te verseker.

Ten einde dienslewering te versterk, word dienste geëvalueer en waar nodig aangepas. Supervisors moet toesien dat supervisiepersone kliëntestelsels van bevoegde, voldoende en etiese dienste voorsien. Verskeie supervisiemodelle word in die naslaanbronne voorgestel, maar oplaas moet ʼn model gekies word wat die praktykverwante ontwikkeling van die supervisiepersoon verder kan uitbou (NASW 2013:6,7).

Voorbeeld van supervisor se verantwoordelikhede

Hieronder word die supervisor se verantwoordelikhede uiteengesit soos vir ʼn gemeenskapsprojek wat slagoffer-ondersteuningsdienste in die groter Tshwane Metropolitaanse gebied verskaf. ʼn Geregistreerde maatskaplike werker, wie se vernaamste verantwoordelikheid dit is om die publiek teen enige wangedrag deur vrywilligers te beskerm, hou toesig oor die organisasie. Kortom: die supervisor se vernaamste taak is die beskerming van die Grondwet van Suid-Afrika, die Handves van Regte, en die organisasie se Etiese Gedragskode.

In hierdie gemeenskapsprojek vervul supervisie ʼn deurslaggewende rol in assessering, evaluering, verdere ontwikkeling en ondersteuning in die proses om vrywilligers te bemagtig. Verpligte maandelikse supervisievergaderings bied ondervragings- en leergeleenthede vir vrywilligers. Supervisie as ʼn opvoedkundige proses is gerig op die integrering van teorie in praktyk om etiese en verantwoordelike gedrag te verseker (Botes 2016:8).

Supervisie vestig kritieke aandag op die etiese gedrag van vrywilligers, teoretiese groei asook die raaksien van toekomstige opleidingsbehoeftes. Die groep vrywilligers en die toesighouer se vernaamste etiese verantwoordelikheid is om te verseker dat niemand van die organisasie enige leed aangedoen word nie. Dit word verseker deur die volgende (Botes 2016:8):

· Opleiding en praktyk word deur ʼn akademies-teoretiese raamwerk ondersteun;

· Kandidate moet praktiese veldwerk onder mentorskap en supervisie voltooi;

· ʼn Etiese gedragskode moet aandagtig gelees, verstaan en onderteken word;

· Verpligte en vertroulike verslagdoening;

· Die bywoon van verpligte supervisievergaderings;

· Voortdurende leer en ontwikkeling.

Deur middel van die groep se aktiwiteite wil die vrywilligers die minimum standaarde, prosedures en riglyne van die slagofferbemagtigingsprogram van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling handhaaf (Botes 2017:8). Die supervisor is verder verantwoordelik vir die monitering van en advisering oor voldoening aan die standaarde en riglyne vir slagofferondersteuning en -bemagtiging soos neergelê in die geïntegreerde slagofferbemagtigingsbeleid en die van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling.

Ontwikkelingsbenadering

Supervisie vanuit ʼn ontwikkelingsbenadering wil kennis oordra wat op ʼn vaardige en praktiese wyse met etiese en geïnformeerde praktyk verbind kan word. Ofskoon administrasie, opvoeding en ondersteuning die drie primêre domeine van supervisie is, fokus supervisie op die professionele ontwikkeling van die supervisiepersoon (NASW 2013:7).

Supervisie is gerig op die bevordering van leer in klein groepies, en portuurs kan in so ʼn omgewing van mekaar leer. Hierdie omgewing van onderling gekonstrueerde leer stel mense in staat om te leer oor verskeie kulturele perspektiewe, ondervindings en idees. Leergeleenthede en -uitdagings behoort persone onder toesig te stimuleer om kritiese beredenering en denkvaardighede te ontwikkel. Selfgerigte leer, eie-evaluering en -assessering, as ʼn lewenslange proses, moet deur supervisie gekweek word. Na gelang van die unieke behoeftes van supervisiepersone moet weeklikse of tweeweeklikse supervisiesessies gehou word.

Afsluiting

ʼn Praktyk van toerekenbaarheid en verantwoordelikheid is uiters belangrik wanneer dienste in slagoffer-ondersteuningsprogramme gelewer word. Supervisie poog om dienslewering op verantwoordelike wyse te fasiliteer. Supervisie is dus ʼn werksverhouding tussen die supervisor en supervisiepersoon wat die konteks en leiding vir vaardighede en kennisontwikkeling bied.

Die supervisieproses is ’n hoogs etiese werksverhouding en die verantwoordelikheid vir ontwikkeling word tussen die supervisor en die supervisiepersoon verdeel. Die supervisor en die supervisiepersoon raak deelnemend betrokke by aktiwiteite om etiese en verantwoordelike dienslewering te vestig. In die supervisieproses word administratiewe, opvoedkundige en ondersteunende komponente aangespreek (NASW 2013:7,8; Schultz 2016:37; Suraj-Narayan 2010:191-193).

Bronnelys

Botes, JH. 2016. “Mon Ami – Trauma Troops; supervisor’s hand-over report”. Ongepubliseerd: Pretoria.

De Vos, AS, Strydom, H, Fouché, CB & Delport, CSL. 2011. Research at grass roots: For the social sciences and human service professions. 4de uitgawe. Pretoria: Van Schaik.

Etiese Kode SACSSP. 2017. Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplike Diensberoepe. Policy Guidelines for course of conduct, code of ethics and the rules for social workers. SACSSP: Pretoria.

Monette, DR, Sullivan, TJ & De Jong, CR. 2008. Applied social research: A tool for the human services. 8ste uitgawe. Belmont: Brooks/Cole.

National Association van Social Workers (NASW) & Association of Social Work Boards. 2013. Best practice standards in social work supervision. NASW: Washington, DC.

Schultz. P 2016. In Schenck, R, Mbedzi, P, Qalinge, L, Schultz, P, Sekudu & Seseko, M. 2016. Introduction to social work in the South African context. Oxford University Press: Kaapstad.

Suraj-Narayan, G. 2010. Management and administration. (In Nicholas, L, Rautenbach, J. & Maistry, J. en Maistry, M. (red). Introduction to social work. Kaapstad: Juta.

Share This