Deur Lize-Mari Labuschagne

Daar is sekere goed wat jy elke dag by die werk doen. Jy drink koffie, jy stuur e-posse, jy woon vergaderings by en jy werk heel moontlik die meeste van die dag op Microsoft Word. Word is die standaard program in baie kantore. Vra maar vir die ongeveer 1,2 miljard mense regoor die wêreld wat Microsoft Office gebruik. Ek self het nooit besef hoe min ek weet van en hoe baie ek kan doen met hierdie program nie, al werk ek daagliks met Word-dokumente.

Dit was duidelik dat ek nog ʼn beginner was voordat ek die Gevorderde Microsoft Word-kursus van S-leer bygewoon het, maar ek het nou my vaardighede so opgeskerp dat ek gesofistikeerde dokumente kan skep, en boonop is dit verbasend maklik. (Dit het definitief nie dieselfde vlak van intimidasie as byvoorbeeld Microsoft Excel nie.)

Hierdie kursus word aangebied deur Chris Botha, ’n Microsoft Certified Professional, Microsoft Office Specialist Master asook ’n Microsoft Certified Trainer. Die kursus stel jou in staat om met meer selfvertroue te werk om gesofistikeerde besigheidsdokumente te skep, te redigeer en te formateer. Selfs al beskou jy jouself as ʼn vaardige Microsoft Word-gebruiker, is daar waarskynlik nog ’n hele paar dinge wat jy by Chris kan leer om selfs meer doeltreffend te wees. Sedert 1993 is Chris regoor Suid-Afrika en in die buiteland betrokke by die opleiding en opstel van basiese tot gevorderde kursusse in die Microsoft Office-reeks.

Tydens die kursus het ons onder andere die volgende vaardighede geleer:

  • Hoe om ʼn inhoudsopgawe outomaties by te werk
  • Hoe om kruisverwysings in te voeg sodat dit outomaties bygewerk word wanneer veranderinge aangebring word
  • Hoe boublokke (“Building Blocks”) werk
  • Hoe om template en vorms te gebruik

Hierdie is slegs ʼn paar van die vaardighede wat ons tydens die twee dae lange kursus by Chris geleer het. Ek kan byna nie dink dat ek voorheen sonder hierdie vaardighede gewerk het nie. Die wenke en toepassingsvaardighede is onmeetbaar, van onskatbare waarde, die moeite werd om te leer en ek sal dit vir enige iemand aanbeveel – of jy nou ʼn student is of al 30 jaar lank werksaam is.