Deur Mandy-Michelle Thackwray

ʼn Vriendin vertel my vanoggend hoe angstig sy voel sonder enige rede. Sy slaap nie goed nie en sy voel dat haar brein eenvoudig net nie wil afskakel nie.

Ek het beleefd geluister, maar kon nie enige raad bied nie. Ek voel ook asof ek aan tienduisend dinge gelyk dink. Ek voel angstig en gepsanne omdat die werk meer word, planne nie altyd uitwerk nie, skuldig omdat ek nie genoeg tyd met my gesin spandeer nie en moet spartel om my kop bo water te hou.

Dit was seker ʼn bestiering dat ek vandag S-leer se webinaar, Werk-lewe-balans: Die gesonde keuse, moes hoor. Dit het my laat besef dat ek van myself ʼn slaaf gemaak het en dat my prioriteite nie met my waardes belyn is nie. Indien ek nie vinnig iets verander nie, gaan ek myself heeltemal verloor.

Hoe gebeur dit? Volgens die aanbieder, Gerhard Verhoek, leef ons ongebalanseerd. Hierdie wanbalans lei tot uitputting wat ons dikwels nie eens besef nie omdat ons net volstoom aangaan. Ons skep die illusie van ʼn onuitputbare bron wat net kan voortgaan, maar is binne onsself sielsongelukkig. Ons besluit self om langer ure te werk, om ons dag te vul met tegnologie, en waarde te heg aan dinge wat glad nie deel vorm van ons nalatenskap nie.

Die boodskap wat ek wegneem van hierdie webinaar is eenvoudig. Neem beheer oor jou eie lewe! Daar is dinge in die lewe wat ek kan beheer en ander waarop ek geen invloed kan uitoefen nie. Ek moet self die keuse maak oor hoe ek gaan voel oor dinge waaraan ek aandag gee en wat regtig vir my belangrik is.

Ons moet werk om ons brood en botter te verdien. Baie van ons geniet ons werk en wil ten alle tye ons beste lewer. Dit is die ideaal, maar nie meer ten koste van myself nie. Ek kan steeds hard werk en dit geniet, maar ek moet besluit om verantwoordelikheid te neem om my tyd vir werk net by die werkplek te bestee. As ek in my motor klim aan die einde van ʼn produktiewe dag, is dit my tyd; vir familie, vriende, vir dinge wat my siel voed.

Een laaste les wat my bybly, is dat ons tyd moet maak om te reflekteer. Hoe meer jy dit doen, hoe meer gaan jy kan besin oor jou prioriteite, hoe beter gaan jy kan bepaal waar jou passie lê, en hoe meer georganiseerd kan jy lewe.

Indien jy jouself ʼn hupstoot wil gee tot ʼn gesonde werk-lewe-balans, neem gerus deel aan die S-leer webinaar. Besoek gerus www.s-leer.co.za