Deur Reon Janse van Rensburg

Die wêreld soos ons dit nog altyd geken het, het in Maart 2020 verander. Die Covid-19-pandemie, met ʼn kombinasie van verskeie faktore, het tot ʼn verandering gelei wat die wêreld soos ons dit voorheen geken het, byna onherkenbaar gelaat het. Talle ondernemings wat voorheen tradisionele werkomgewings gebied het, het die manier waarop hul werknemers te werk gaan, verander om by die omstandighede en ook die moderne era waarin ons leef en werk aan te pas.

Ons almal het uitdagings beleef voor die Covid-19-pandemie sy verskyning gemaak het. Die laaste twee jaar het egter vir die meeste mense regoor die wêreld enorme uitdagings gebied wat die wyse waarop ons die lewe aanpak, drasties beïnvloed het. Ons moes dikwels herbesin en planne beraam om by omstandighede aan te pas. Hoewel baie mense kan terugkeer na ʼn “normale” lewe ná die pandemie, is daar wel diegene wat weens verskeie redes moes herbesin oor hul lewe, insluitend dié van werk, om sodoende die toekoms weer aan te gryp.

Die wêreld is stadig maar seker besig om weer sy deure oop te maak, maar mense het nie noodwendig meer dieselfde uitkyk as voorheen oor hoe hulle hul lewens wil leef nie. Talle werknemers het in hierdie tydperk veral herbesin oor hoe hulle hul beroep wil aanpak en ook oor die wyse waarop hulle hul loopbane wil voortsit. Baie werknemers en ondernemings is besig om die vraag te beantwoord of hulle dieselfde denkwyse as voor die pandemie gaan gebruik, en of hulle die konsep van werk gaan herbedink en herskryf om nuwe geleenthede te benut.

Volgens kundiges is dit nou die perfekte tyd vir werkgewers om na hul werknemers te luister. Indien daar werknemers is wat wel met groot sukses daarin geslaag het om vanaf die huis te werk, moet daar sover as moontlik maniere gevind word oor hoe die proses voortgesit kan word. Om dit te vermag, kan ondernemings selfs beleide herskryf of nuwes implementeer om sodoende nie waardevolle talent te verloor nie en om ook na die welstand van hul werknemers om te sien. Daar is natuurlik ook werknemers wat eerder op kantoor floreer en dit verkies. Elke voorkeur moet ondersoek word voordat dit summier afgeskiet word.

Baie ondernemings en ook werknemers het reeds vooroordele rakende werk en hoe dit moet lyk. Werknemers wat egter ondersteun en bemagtig word om hul werk goed te doen, sal byna altyd verwagtinge oortref. Hierdie werknemers sal met innoverende idees vorendag kom, oor kreatiwiteit beskik en vasberade wees om tot die algehele sukses van die onderneming by te dra.

Werkgewers word gewaarsku dat indien hulle vasklou aan die “ou manier” van dinge doen, hulle goeie werknemers kan verloor, indien hulle nie reeds het nie. Om die verandering wat tans in die wêreld plaasvind suksesvol te navigeer, verg dat ondernemings anders gaan moet dink. Om goeie talent te lok, sal ondernemings verskillende maniere van werk moet akkommodeer.

Die waarheid is dat hierdie nuwe maniere van werk nie nuwe idees is wat slegs deur die pandemie veroorsaak is nie, maar dat die pandemie die proses bloot versnel het. Alles, vanaf tegnologiese infrastruktuur tot die rolle en verantwoordelikhede van die tradisionele model wat ons reeds vir dekades gevolg het, is besig om te verander.

CNBC berig dat volgens ʼn opname wat in Januarie vanjaar gedoen is, het 61% van die meer as 5 000 respondente wat vandag van die huis af werk, gesê dat hulle nie na die werkplek gaan nie omdat hulle nie wil nie, en 38% sê dat hul kantore gesluit is. Dit is ʼn ommekeer vanaf Oktober 2020 toe 64% van die mense wat van die huis af gewerk het, gesê het dat hul kantoor gesluit is weens die pandemie, en slegs 36% het in daardie stadium aangedui dat hulle van die huis af wou werk.

Hoewel die Groot Bedanking (“The Great Resignation”) in Amerika voortduur, en hoewel Suid-Afrika heel moontlik nie so erg daardeur geraak word nie, is daar steeds maatskappye wat daarop aandring dat hul werknemers terugkom kantoor toe. Datawetenskaplikes by Ladders meen egter die skrif is aan die muur en dat afstandwerk hier is om te bly. Volgens hul projeksies sal 25% van alle professionele poste in Noord-Amerika teen die einde van 2022 afstandwerk wees, en hierdie persentasie sal in 2023 verder vermeerder.

Forbes berig dat navorsers van Ladders die beskikbaarheid van afstandwerk by Noord-Amerika se 50 000 grootste werkgewers noukeurig dopgehou het sedert die pandemie begin het. Afstandwerkgeleenthede het van minder as 4% van alle hoogs betaalde poste voor die pandemie tot ongeveer 9% aan die einde van 2020 gestyg, en dit staan vandag op 15%.

Terselfdertyd is daar ook ʼn drastiese toename in werkuitbranding waargeneem wat daartoe gelei het dat talle werknemers ʼn gebrek aan belangstelling, motivering en energie by die werk het. Forbes rapporteer dat talle werknemers sukkel met kognitiewe moegheid, emosionele uitputting asook fisieke moegheid, en dat daar ʼn drastiese afname in die welstand van werknemers is in vergelyking met die tydperk voor die pandemie.

ʼn Verslag wat deur die Amerikaanse Sielkundige Vereniging saamgestel is, dui daarop dat kwessies soos die verpolitisering van maskers en entstowwe asook gevoelens van ʼn gebrek aan ondersteuning van die regering en werkgewers veroorsaak het dat werknemers sinies geword het oor hul werk en oor die publiek in die algemeen.

Volgens Michael Leiter, ereprofessor in Organisasiesielkunde aan Melbourne se Deakin Universiteit, is hierdie soort sinisme kragtig omdat dit die mense se gevoelens oor die waarde van hul werk ondermyn. ʼn Positiewe gevoel oor die waarde van iemand se werk   kan die persoon help om gemotiveerd te bly in moeilike tye.

Volgens hierdie verslag sal pandemieverwante stressors nie binnekort stop nie, en daarom is dit belangrik dat stresverminderende maatreëls vir werknemers daargestel moet word.

Werknemers en werkgewers het die nuwe normaal betree en moet saam oplossings vind om die toekoms te benader. Een ding waaroor daar wel saamgestem kan word, is dat ons almal die nuwe normaal beter wil maak as wat dit voorheen was. Kom ons herbesin waar dit nodig is en help mekaar om tot ʼn vergelyk te kom. Heroorweeg die pad na ʼn suksesvolle toekoms wat almal insluit – ook die werknemers.

 

Bronne:

Millions of Employees are Thinking Differently Now. Are You Prepared? – https://www.linkedin.com/pulse/millions-employees-thinking-differently-now-you-mcgann-jantzen/

61% of people working from home are doing so because they want to, even though their office is open – https://www.cnbc.com/2022/02/18/people-are-working-from-home-out-of-preference-not-just-necessity.html#:~:text=Remote%20workers%20report%20better%20balance,57%25%20in%202020).

Remote Work Is Here To Stay And Will Increase Into 2023, Experts Say – https://www.forbes.com/sites/bryanrobinson/2022/02/01/remote-work-is-here-to-stay-and-will-increase-into-2023-experts-say/?sh=480d890020a6